Nuuskommentaar: 10 Februarie 2023
Deur: Dr. Christo Pretorius
Menige handpalm in antieke Rome het per geleentheid ‘n silwer munt toegevou. Veral dié een wat die godin Roma as ‘n statige en regverdige dame uitbeeld. Sy leuen, swaard in die hand, gemaklik op die sewe heuwels van Rome.
Teenoor hierdie ideale beeld van Rome teken die Openbaring van Johannes ‘n ander prentjie. Dié van ‘n besope vrou, glasie in die hand, dronk van mag en bloed; behang met versierings en genotsug op die sewekoppige dier.
Hier beeld dit die staat, soos talle ander voor en na Rome, as ‘n instrument van die Bose, as die vernietiger van lewe uit.
Later verslind die dier sy ruiter en klink die waarskuwing: die kwaad is selfvernietigend.
Deur die eeue vra Openbaring lesers: Waar staan hulle? By die Lam wat lewe gee of die dier wat lewe vernietig.
Ander het ook gevra na die wese van die Bose en die mens se reaksie daarop.
In sy verhaal, ‘Die Pes’, vra Albert Camus ook na die aard van kwaad en die reaksie daarop.
Deur die oë van dr Bernard Rieux beskryf hy die eerste tekens van die Pes en die hagliker, ellendiger omstandighede wat volg. Die eerste dooie rotte word as ‘n kwajongstreek verklaar en die kwaad word onderskat.
Die dood en lyding van duisende, die verbrokkeling van die samelewing lei ook na die verkrummeling van burgers se karakter en inbors. Paniek en histerie heers by sommige, ander buit die toestand uit en stop die beursies vol, terwyl enkeles bo die omstandighede uitstyg en die kwaad met moed en heldhaftigheid trotseer.
Vir Camus is die Pes ‘n metafoor van die kwaad en toonbeeld van nie net hoe stelsels en sisteme disintegreer nie, maar hoe moraliteit ineenstort. By sommiges ontbreek selfs die wil om weerstand te bied en neem ‘n fatalisme oor.
Die uiteinde klink triomfantlik, die Pes word verdryf en die burgers vier met wapperende vaandels die oomblik. Met die ellende vergete mymer dr Rieux oor die kortstondigheid van die burgers se geheue en die wete dat die Pes, die kwaad, weer sy rotte sal stuur.
Dit is ‘n ou verhaal wat oor en oor vertel word. Dit klink by die toringbouers in Babel, in Daniël se seemonsters en Johannes se wilde ruiter. Dit sypel deur die eeue na talle lande en volke en word nie net deur Camus beskryf nie, maar ook Hanna Arendt en NP van Wyk Louw vra hoe die kwaad insluip en die mens, die samelewing en die staat kaap.
Suid-Afrika en haar mense ken die verhaal.
Ook hier seil die kwaad in, geklee en versier met mag en status, maar dit verskeur en vernietig, blus die lewe en stroop mense van hoop.
Tans beleef Suid-Afrika ‘n toenemende haglikheid en die ineenstorting van die samelewing. ‘n Legio van nuusberigte berig daagliks oor misdaad, plaasmoorde, korrupsie, staatskaping, kragonderbrekings, verarming, rassisme, wanbestuur, bitterheid en haat.
Die ruimtes van lewe: hospitale, skole, woonbuurte en elders se toestand is kritiek. Nie net die instellings is siek nie, maar die morele kern van Suid-Afrika en haar gemeenskappe is platgeslaan. Dit lyk asof die weerstand teen die kwaad en moed vir die goeie kwyn.
Tog is die meerderheid van Suid-Afrika se mense en gemeenskappe Christene, gelowiges wat vra na die verskil tussen goed en kwaad; wat moet vra waar staan ons: tussen dit wat lewe vernietig of lewe skep en bewaar?
Hoe hierdie vraag beantwoord word en waar ons staan kom elke dag aan die lig, nie net tydens verkiesings nie.