20 Junie 2023
“Die VF Plus sal nie toelaat dat die departement van paaie en vervoer in Gauteng voete sleep met die herstel van gevaarlike paaie in die provinsie nie.”
Die party se lid van die provinsiale wetgewer in Gauteng, Amanda de Lange sê die departement het die herstelwerk aan die R500 tussen Carletonville en die R24 onlangs hervat nadat dié projek aanvanklik in Maart gestaak is.
De Lange sê die R500 dien as hoofroete tussen Carletonville met groot mynbedrywighede, Johannesburg, Randfontein en Krugersdorp.
“Kontrakteurs het dié pad se oppervlak as ‘vrot’ beskryf en dit was so onbegaanbaar dat motoriste in die veld langs die pad moes ry. Die departement het besluit om slegs 3km van die pad se oppervlak te herseël en net die slaggate op die res van die pad op te vul,” verduidelik De Lange.
Volgens haar sou die VF Plus verkies dat die hele 15km van die erg beskadigde pad se oppervlak vervang moet word.
Sy sê daar is ʼn toenemende behoefte aan die herstel van paaie in Gauteng en om slegs slaggate op te vul, is nie volhoubaar nie.
