23 September 2022
Die bedrog- en korrupsie-saak teen die geskorste sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule is vanoggend in die Bloemfontein Hooggeregshof tot 20 Januarie 2023 uitgestel.
Die saak is uitgestel omdat Magashule die Hoogste hof van appél wil nader oor sy vroeëre aansoek om die klagtes teen hom te laat terugtrek.
Magashule en sy medebeskuldigdes het vanoggend in die hof verskyn in verband met die omstrede Vrystaats asbesdak-ouditprojek van 2014, wat die provinsie R255-miljoen gekos het.
Indien Magashule se aansoek by die appélhof tot Desember vanjaar vertraag word, sal hy nié kan meeding vir ‘n plek in die ANC se top ses nie. Die regerende party se opsy-staanreël maak dit duidelik dat ‘n lid van die party geskors moet wees hangende hofsake oor beweerde misdrywe.
Magashule het buite die hof gesê dat die aanklagte teen hom politiek gemotiveerd is. “Hule het geen saak teen my nie. Hulle wil slegs keer dat ek een van die top-lede in die ANC word.” Sy ondersteuner, Carl Niehaus was ook by.