Nuuskommentaar: 8 Desember 2021
Deur: Jaco Kleynhans
Olaf Scholz, leier van die Sosiaal-Demokratiese Party in Duitsland, word hierdie week sy land se nuwe bondskanselier. Dit is sonder twyfel een van die belangrikste globale politieke gebeure hierdie jaar. Duitsland is nie net die vierde grootste ekonomie in die wêreld nie, maar onder leiding van Angela Merkel het Duitsland ook die leidinggewende politieke en ekonomiese mag in Europa geword. ‘n Verandering in regering in Duitsland gaan nie net Duitsland nie, maar ook die hele Europa en globale magsverhoudinge ernstig raak.
Die nuwe koalisieregering verteenwoordig ‘n groot politieke verandering. Die rede vir die groot verandering hou nie net verband daarmee dat die Sosiaal Demokrate vir die eerste keer in 16 jaar weer ‘n regering sal lei nie. Vir die eerste keer ooit sal drie partye saam regeer. Die kombinasie van die Sosiaal-Demokrate, die linkse Groenparty en die progressief-liberale Vrye Demokrate is ‘n eerste vir Duitsland.
Daarmee saam kom natuurlik die individue wat met kabinetsposisies beloon is. Terwyl Scholz die afgelope paar jaar in Merkel se kabinet as minister van finansies gedien het, is die huidige minister van arbeid, die Sosiaal-Demokraat Hubertus Heil, ook weer in dieselfde pos aangestel. Die hele res van die federale kabinet bestaan uit nuwe gesigte.
Die nuwe kabinet verteenwoordig ‘n groot ideologiese verskuiwing in die Duitse federale regering. Hoewel die regering die afgelope 16 jaar onder leiding van Merkel reeds op talle terreine na links verskuif het, sal die nuwe regering ideologiese wesenlik meer links as die vorige wees.
Die mede-leier van die Groenparty, Robert Habeck, word die nuwe visekanselier en minister van klimaat en ekonomie. Habeck het oor die afgelope paar jaar herhaaldelik gesê dat hy wil sien dat die Duitse ekonomie totaal getransformeer moet word.
Habeck se medeleier, Annalena Baerbock, word Duitsland se nuwe minister van buitelandse sake. Sy het bykans gee ervaring in buitelandse verhoudinge nie en in ‘n tyd waar ‘n oorlog tussen Rusland en die Oekraïne dreig, onderhandelinge met Iran oor ‘n kernooreenkoms dreig om in duie te stort, die Weste se verhouding met China verder verswak en daar groeiende spanning tussen Wes- en Oos-Europa bestaan, moet ‘n mens wonder of Baerbock die ervaring en vermoëns het om so ‘n belangrike portefeulje te vul.
Verskeie lede van die meer linkse vleuels van die Sosiaal-Demokratiese Party en die Groenparty is ook met kabinetsposisies beloon. Die Groenparty het selfs die landbou portefeulje gekry wat beteken dat swaar tye vir Duitsland se boere voorlê.
Die kritiek op die nuwe kabinet strek ook na die liberale Vrye Demokrate en hulle leier Christian Lindner. Lindner is ‘n ervare, charismatiese politikus maar hy het baie min relevante ervaring om as minister van finansies van die vierde grootste ekonomie in die wêreld te dien.
Scholz het tydens die verkiesingsveldtog homself as die kandidaat wat die Merkel-era sal voortsit, aangebied. Die nuwe koalisieregering het egter ‘n lys van beleidsprioriteite bekend gemaak wat almal op ‘n groot ideologiese verskuiwing dui. Met ‘n ideologiese linkser kabinet, talle kabinetslede met min ervaring en heelwat binnelandse en buitelandse uitdagings lê daar onsekere tye vir Duitsland voor.