Nuuskommentaar: 28 Oktober 2024
Deur: Jaco Kleynhans
Donald Trump is ’n onkonvensionele politieke rolspeler. Soms is hy selfs ’n ongure karakter. Daar is goeie redes waarom ’n meerderheid van Amerikaanse kiesers sê dat hulle nou nie juis vriende met Trump sou wou wees nie. Maar is Trump ’n fascis? Is Trump vergelykbaar met Adolf Hitler?
Die eerste Trump-termyn tussen Januarie 2017 en Januarie 2021 is gekenmerk deur politieke opskuddings, dikwels chaos in die Withuis en van die mees onkonvensionele politieke strategieë in ’n honderd jaar deur ’n Amerikaanse president. Tog was daardie tydperk ook een van laer belasting, minder regulasies, lae inflasie, werkskepping, sterk ekonomiese groei, laer onwettige immigrasie, meer ontginning van plaaslike energiebronne, geen nuwe oorloë waarby die VSA ingetrek is nie en ’n noodsaaklike nuwe realisme by Amerikaanse bondgenote soos Europa, dat die VSA nie vir altyd die wêreld se polisieman kan of wil wees nie.
Die afgelope twee tot drie dekades het die VSA demografies dramaties verander. In 1980 was meer as 90% van Amerikaanse kiesers wit. Vanjaar gaan dit omtrent 60% wees. Indien die Republikeine en Trump dus rassiste is wat Afro-Amerikaners, Latyns-Amerikaners en Asiatiese Amerikaners altyd verpes en selfs uit die land uit wil gooi, dan sal die Demokrate in die toekoms elke verkiesing kan wen.
Die probleem met al hierdie denkbeelde oor waarom Trump volgende week se presidentsverkiesing moet verloor, is juis die werklikheid dat hierdie denkbeelde ver van die werklikheid verwyder is. En dit is waarskynlik Kamala Harris en haar Demokratiese Party se grootste probleem.
Hoewel Trump dikwels onaangename karaktereienskappe toon, en hoewel sy eerste termyn uiters onkonvensioneel was, en hoewel hy onbeskaamd tydens sy eerste termyn vanuit ’n konserwatiewe politieke perspektief regeer het en dus byna fanaties teen onwettige immigrasie en ten gunste van ’n ekonomie was wat in diens van mense wat werk en Amerika se nasionale belang staan, loop hy vandag – ’n week voor die Amerikaanse presidentsverkiesing – voor.
Amerikaanse kiesers sien deur die geraas en val hier in die pylvak van vanjaar se verkiesingsveldtog nie vir elke bietjie oordrewe retoriek nie, soos Harris se uitspraak verlede week dat Trump ’n fascis is. Hoewel Amerika baie meer divers is, smeer die Amerikaanse droom af op Latyns-Amerikaners en Asiatiese Amerikaners. En Trump se ekonomiese beleid, beleid teen onwettige immigrasie en sy anti-oorlog- buitelandse beleid spreek tot hulle. Nie elke immigrant of nasaat van ’n immigrant is polities links of ’n stedelike “woke”-volgeling nie.
Verlede week het die senator van Pennsilvanië, Jon Fetterman, ’n Demokraat, die oë laat rek toe hy aan die linkse New York Times se redaksie geopenbaar het waarom hy nie meer na homself as progressief of links verwys nie. Volgens Fetterman is hierdie titels deur ekstreem-linkses en klein groepies stedelike “woke”-volgelinge gekaap.
Dit is dieselfde rede waarom groot vakbonde vanjaar nie vir Harris, wat haarself by die meer progressiewe deel van die Demokrate skaar, kon onderskryf nie. Dit is ook die rede waarom leiers soos Robert F. Kennedy en Tulsi Gabbard vir Trump steun, en selfs waarom ’n groot groep Arabies-Amerikaanse leiers in Michigan oor die naweek hulle steun aan Trump toegesê het. Dit is ook die rede waarom peilings toon dat Trump se steun onder Latyns-Amerikaners en ook swart mans skerp toeneem. Want hierdie mense, meestal werkersklas-Amerikaners, droom van opwaartse mobiliteit, veilige woonbuurte, beter skole vir hulle kinders, werksekerheid wat nie deur globalisme verpletter word nie en persoonlike vryheid wat nie deur ’n “woke”-reëlboek gesensureer word nie.
Ten spyte daarvan dat Kamala Harris en die Demokrate baie meer geld, steun van meer as 90% van die hoofstroommedia en ’n reusegrondvlakoperasie het, loop Trump ’n week voor die verkiesing voor. Enigiets kan sekerlik nog oor die volgende week gebeur, maar die diepstaat en gevestige orde se beheer oor Washington DC en Amerikaners se toekoms staan ’n groot kans om teen volgende Woensdag aan skerwe te wees. In ’n tweede termyn sal Trump vinniger en feller as tydens sy eerste termyn optree, en dit is juis wat soveel Amerikaners wat met goeie rede diep bekommerd oor hulle land is, tans voor hoop.
FOTO: NPR