27 Februarie 2023
President Cyril Ramaphosa sê dit is nie so erg as wat sommiges dink om op die Internasionale Finansiële Aksietaakmag, FATF se gryslys te wees nie.
Hy sê in sy weeklikse nuusbrief dat dit ‘n geleentheid vir die land is om die stryd teen finansiële misdade te versterk.
Suid-Afrika is Vrydag op die gryslys geplaas nadat die taakmag bevind het dat daar tekortkominge in plaaslike wetgewing is wat die internasionale standaarde teen geldwassery en ander ernstige finansiële misdade betref.
LEES OOK: SUID-AFRIKA AMPTELIK OP DIE GRYSLYS GEPLAAS
Ramaphosa sê hy is bewus daarvan dat die land nou toenemend dopgehou sal word oor die stand van finansiële instellings, wetstoepassingsagentskappe en die beleggingsomgewing.
Volgens hom is die gryslys basis egter in plek om die kwessies waaroor die taakmag bekommerd is te verbeter.
Hy sê die regering is vasberade om te doen wat nodig is om van die gryslys afgehaal te word.