4 Desember 2023
Die departement van basiese onderwys het in ‘n omsendbrief – wat 21 Oktober vanjaar dateer – riglyne gegee oor punte-aanpassings vir leerlinge in Gr 4 tot Gr 9.
Leerlinge in dié grade sal weer tot 5% meer kry in enige drie vakke wat hulle aan die einde van die jaar druip.
Benewens hierdie spesiale puntaanpassing, sal hulle ook wiskunde kan slaag as hulle nie 40% in die vak behaal nie, maar aan al die ander vorderingsvereistes na die volgende graad voldoen.
Boonop sal leerlinge in graad vier tot ses – wat steeds nie aan die vorderingsriglyne voldoen nadat die punteaanpassings in drie vakke toegepas is en kondonasie vir wiskunde toegepas is nie – steeds na die volgende graad bevorder word indien die skoolhoof en opvoeders dit goedkeur.
Die departement het dié aanpassings geregverdig deur aan te voer dat dié stap daarop gemik is om te kompenseer vir verliese wat tydens die Covid-19 inperkings gelaat is.