17 Mei 2023
Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, meen Eskom was ‘n sogenaamde voertrog vir verskeie instellings nié net vir die ANC nie.
Gordhan het dít vandag voor die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê as deel van ‘n ondersoek na beweringe by die kragvoorsiener.
LEES OOK: ANDRÉ DE RUYTER WEIER OM NAAM VAN “KORRUPTE” SENIOR POLITIKUS BEKEND TE MAAK
Die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, het vroeër vanjaar in ‘n televisieonderhoud beweer dat Eskom ‘n voertrog vir die ANC is én dat hooggeplaasde politici by korrupsie by die kragvoorsiener betrokke is.
Gordhan voer egter aan dat die inligting waarop De Ruyter staat gemaak het, nie getuienis is nie, maar slegs bewerings wat nie in die hof toegelaat sal word nie.
Hy het vroeër vanoggend gesê dat hy nié die name sal noem van die politici wat na bewering betrokke is by bedrog en korrupsie by die kragvoorsiener nie. Hy het verder uitgevaar teen De Ruyter, en meen hy maak gebruik van “swart gevaar-taktiek”, om die blaam vir sy mislukkings te verskuif na die ANC.
LEES OOK: ANDRÉ DE RUYTER BEANTWOORD VANDAG VRAE IN PARLEMENT OOR ESKOM-BEWERINGS
Gordhan het ook ontken dat hy goedkeuring gegee het aan de Ruyter om ‘n onafhanklike intelligensieprojek van stapel te laat loop.
Volgens die minister gee “De Ruyter voor asof hy alles weet. Hy is nie ‘n ingenieur nie, en is as ‘n apteker opgelei.”
