Nuuskommentaar: 6 April 2023
Deur: Dr. Christo Pretorius
In die volgende dae gedenk Christene wêreldwyd die kruisiging en opstanding van Jesus Christus.
Die ses Sondae wat Goeie Vrydag en Paassondag voorafgaan is bekend as die Lydensondae en gelowiges dink in die besonder na oor Jesus se lyding en betekenis daarvan.
Verraad, verloëning, verhore en verlating is van die kernbegrippe wat Christus se kruis toelig.
Verhore voor verskillende regsliggame soos die Sanhedrin en die regterstoel van Pontius Pilatus geniet aandag en veral die verhoor voor die Romeinse prokurator bied vrae en antwoorde soos: Wat is waarheid? Is jy die Koning van die Jode? Ecce homo – Sien die mens! en …U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie.
In Jerusalem het die Koning van die Jode, die Woord van God teenoor die verteenwoordiger van die Romeinse ryk gestaan en ook dié Staat moes besluit of hy vir of teen God se genade is.
Pilatus poog om neutraal te wees, was sy hande in onskuld, maar die beslissing, die Ja of Nee vir of teen God se genade kan nie weggespoel word nie.
Dit is onmoontlik om neutraal te wees, want hoe die menslike gemeenskap, oftewel die broederskap van alle mense vorm kry is ‘n fundamentele vraag vir die totale mensdom en put uit ‘n morele bedding.
Dit is ook die begronding vir die ordening van die samelewing en vir gelowiges bly die vraag : Hoe die mens met mekaar op hierdie aarde ‘n samelewing vorm?
Hoe dit vorm aanneem, wat die Staat met die mag doen wat aan hom gegun word, blyk ‘n onophoudelike soeke en stryd te wees. Veral die vraag na wat vryheid is en hoe dit bevorder en bewaar word, bied stof tot nadenke.
Hierdie vrae word onder andere deur skrywers soos Benjamin Constant, Isaiah Berlin, George Friedrich Wilhelm Hegel en Alexis de Tocqueville gevra en dit is steeds bepalend vir die beste manier om saam te bestaan.
Vir Benjamin Constant is die kenmerke van moderne vryheid die reg om ‘n opinie te koester en uit te spreek, om eiendom te verhandel, om ‘n eie professie te kies, godsdiens te beoefen en invloed op die owerheid se amptenary uit te oefen. Dit alles oor die boeg van die reg.
Vir Isaiah Berlin is vryheid die afwesigheid van struikelblokke en manipulering en Hegel waarsku dat vryheid ook verskraal kan word, soos die vryheid van die Franse Rewolusie. Daar is die self sonder grense, die enkele mens die enigste norm en dit lei na koolkoppe.
En terwyl die Voortrekkers na vryheid trek, waarsku Alexis de Tocqueville teen ‘n demokrasie wat niks anders is as ‘n tirannie deur die meerderheid nie.
Hy sê: ‘n Demokrasie wat nie rekening hou met die burgerlike instellings en gemeenskap nie, loop die gevaar om die individu te isoleer en tot konformiteit te dwing. Dan word die staat ‘n geweldig beskermende mag wat op alle terreine burgers se verantwoordelikhede opeis. Nou en dan, vir ‘n oomblik hef burgers hulle toestand van afhanklikheid op, net om nuwe meesters te kies.
In De Tocqueville, Constant en Berlin blyk dat daar verskillende kompeterende strukture is waarvolgens die samelewing ingerig moet word.
Elemente hiervan klink in die politieke partye en burgerlike instellings wat tans in Suid-Afrika eweneens aan die samelewing vorm wil gee en dit met die oog op die 2024 Algemene verkiesing.
Terwyl koalisies, verkiesings, projekte en manifeste ‘n beeld bied van die gedeelde of uiteenlopende waardes, vier gelowiges eerskomende Vrydag die kruisiging van Christus en Sondag sy opstanding uit die dood en met dit voor oë klink die vraag: Hoe moet ons hier op aarde saam leef?