Aand met Jaco Versfeld

Sondae
17:00 - 00:00

Luister nou

Volgende

Goedkoop melodrama en paddas in die kookwater

Nuuskommentaar: 9 Julie

Deur: Prof. Koos Malan

Goedkoop melodrama oor ’n saak wat oplaas geen uitwerking op die algemene rigting van die Suid-Afrikaanse politiek het nie. Dit is waaraan die publiek oor die afgelope dae uitgelewer is na mate die mees onlangse episodes in die Jacob Zuma-sage homself voltrek het.

Zuma is nou in die gevangenis waar hy hoort – dit nadat advokate soos wat baie van ons ook op ons televisieskerm gesien het, tot vervelens toe dikwels met treffend deursigtige swak argumente laaste pogings aangewend het om Zuma uit die tronk te hou. Vir eers – ons sal moet sien vir hoeveel dae of maande – is Zuma in die tronk.

Van die grootpraat van een van Zuma se seuns oor hoe hy Zuma tot oor sy dooie liggaam sal verdedig, het niks gekom nie. En van die nog groter grootpraat van Carl Niehaus oor tot watter uiterstes sy MK-veterane sal gaan om die Baba Zuma te beskerm, het nog minder gekom. Verlede naweek was Niehaus nog die brullende leeu. Woensdagaand kort voor Zuma by die genagenis aangekom het, het Niehaus ingekrimp tot ʼn beteuterde, vredeliewende lammetjie. Bowendien is hy nou ook uit die ANC geskors. Terselfdertyd verswak Ace Magashule se posisie in die ANC konstant.

Die opgewonde jubeling van etlike blinkoog politieke kommentators lui dat al hierdie gebeure beteken dat die Radikale Ekonomiese Transformasie oftewel RET-faksie in die ANC nou duidelik die onderspit delf en dat Ramaphosa en sy kornuite inderdaad nou die oorhand kry. Onderliggend aan hierdie sienswyse is die beskouing dat die ANC faksies in teenoorgestelde ideologiese faksies verdeel is, wat in ʼn ideologiese stryd gewikkel is. Hiervolgens sou Ramaphosa en sy volgelinge – kommuniste soos Blade Nzimande, Pravin Gordan en etlike andere – die goeie ouens wees, wat nagenoeg op die regte pad is.

Niks is verder van die werklikheid verwyder as hierdie misvatting nie, want die ANC is wesenlik ʼn ideologies ʼn eenheid. Die ANC onder Ramaphosa net soos die ANC onder Zuma en net soos die kommuniste van ouds is ewe heg verbind om by wyse van kader-ontplooiing beheer oor elke sfeer van die samelewing te verkry, ewe sterk verbind tot party-beheer oor alles, en ewe sterk verbind tot die aanslag op die verswelging van minderhede se kultuurbates en die aanslag op private eiendomsreg.

Dit is per slot van sake juis onder Ramaphosa wat die drang na die konfiskering van eiendom in die waan van onteiening sonder vergoeding op volle vaart gekom het. En dit is onder Ramaphosa wat die Nasionale Vergadering op 27 April 2018 blankes sedert die koms van Jan van Riebeeck tot kollektiewe misdadiger verdoem het.

Dit is ook onder Ramaphosa wat die land verdere ekonomiese vertoue ingeboet het, korrupsie met Covid-geld nuwe vaart gekry het en die land steeds al hoe meer in ʼn toestand van anargie verval.

Die verskil tussen die Zumas en die Ramaphosas lê in aanslag en styl. Zuma en sy kornuite is ongeraffineerd, kru en dikwels blatant misdadig. Die Ramaphosas is meer afgerond, welsprekend, indirek, taktvol, uitgeslape, misleidend en oplaas gevaarliker.

Laat ons nie vergeet nie dat Ramaphosa inderdaad president Frogboiler oftewel Paddakoker is, soos wat David Bullard hom nou die dag in sy rubriek in Politicsweb noem. Dit is na aanleiding van Ramaphosa se stelling dat die blankes met geleidelik hoër temperature gekook moet word – geleidelik sodat hulle nie agterkom wat met hulle gebeur nie, en dus wanneer dit op stuk van sake kom, hulself nie meer sal kan verweer nie.

Jacob Zuma agter tralies verander absoluut niks aan Ramaphosa se slinkse paddakook-strategie nie. Inteendeel, met sy interne vyande uit die pad, kan Ramaphosa juis meer ongestoord sy kookpot stook.

Dit is dus belangrik om nie deur die melodrama van die Zuma-kaskenades meegevoer te word asof dit van enige werklike belang is nie – asof die vuur van Ramaphosa se kookpot nou geblus is nie.

Nou meer as ooit tevore, moet ʼn sin vir selfstandigheid en vryheid te midde van die verswakkende staat al hoe meer benut word om in goeie verhoudinge met ander gemeenskappe, ruimtes van selfbesuur vir Afrikaners uit te bou.

Hou Afrikaans op die lug

Klik hier

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

PADWAARDIG

SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate

WapensvirSAPD_17April2025

AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

POLISIE2-1

10 000 speurders sluit by privaatsektor aan of bedank in die afgelope 9 jaar

NA Exterior

OUTA vra vir strenger regulering van voordele aan openbare ampsdraers

VAPE-1

DA nader gesondheidsdepartement oor tieners se gebruik van damptoestelle

Ander Nuus Artikels

Donald Trump
Nuuskommentaar: Die ANC se stryd teen Trump én realiteit
NWU
NWU sê hy bevind geen bewyse van sangoma-ritueel nie
ENOCH1-large
“Geen hofsaak sal BTW-verhoging keer nie”
PADWAARDIG
SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate
WapensvirSAPD_17April2025
AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

Aand met Jaco Versfeld

Sondae
17:00 - 00:00

Luister nou

Volgende