Nuuskommentaar: 25 Januarie 2022
Deur: Jaco Kleynhans
Die afgelope twee jaar was ‘n onstuimige tyd in die globale verhouding tussen die politieke en ekonomiese elite aan die een kant en die burgery aan die ander kant. In baie lande het regerings, soms met goeie rede, soms met onsekere motiewe, die pandemie gebruik om sentrale mag te versterk en toenemend outokraties op te tree. Ook die rykstes van die rykes het hulle posisie in die globale ekonomie drasties versterk met die tien rykste persone in die wêreld wie se rykdom volgens Oxfam tydens die pandemie meer as verdubbel het.
Die Wêreld Ekonomiese Forum het verlede week sy jaarlikse Davos Agenda-byeenkoms virtueel aangebied. Die titel van die byeenkoms was: “Werk saam en herstel die vertroue.” Peilings in veral Westerse lande het die afgelope tyd gewys dat die vertroue wat die gewone burgerye in die politieke en ekonomiese elite het, skerp afgeneem het.
Die jaarlikse byeenkoms van die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland is vanjaar tot Mei uitgestel. Verlede week se byeenkoms was net bedoel om die agenda vir 2022 te bepaal. Die vier sake wat volgens die Forum vanjaar belangrik is, is die hernuwing van ‘n sogenaamde globale maatskaplike kontrak, klimaatinnovasie, billike toegang tot entstowwe en globale tegnologiese samewerking.
Die Forum mag reg wees oor die uitdagings met vertroue wat tans wêreldwyd bestaan. Met die res van hulle agenda bewys hulle egter hoe uit voeling hulle met gewone mense is. Reg oor die wêreld is mense tans bekommerd oor stygende lewenskoste, werkloosheid, basiese dienste insluitende die afgelope twee jaar se versteuring van onderwys, toegang tot behuising en misdaad en terreur.
Sondag het meer as eenhonderd duisend mense van regoor Europa in Brussel, die setel van die Europese Unie, aan een van die grootste betogings nog ooit in dié stad deelgeneem. Die sentrale tema van die betoging was dat gewone mense se vryheid nie deur die elite weggeneem mag word nie.
Verlede week het 102 van die wêreld se rykste mense ‘n opebrief gepubliseer waarin die globale ekonomiese elite oor die wantroue van gewone mense jeens die rykstes van die rykes gewaarsku is. Hulle gaan verder deur te waarsku dat ‘n globale opstand teen die skatryk elite kan ontstaan.
Die brief lees verder: “Vertroue – in die politiek, in die samelewing, in mekaar – word nie gebou in klein sykamers wat slegs toeganklik is vir die heel rykstes en magtigstes nie. Vertroue word gebou deur aanspreeklikheid, deur goed geoliede, regverdige en oop demokrasieë wat goeie dienste lewer en al hul burgers ondersteun.”
Geen ander stelsel as ‘n kapitalistiese demokrasie kon die afgelope honderd jaar ekonomiese vooruitgang en politieke stabiliteit en vryheid beter realiseer nie. Die verskil tussen kapitalistiese demokrasieë en lande soos Noord-Korea en Kuba is duidelik sigbaar.
Wanneer die rykstes van die rykes egter nog ryker word en meer as 300 miljoen mense wêreldwyd in armoede verval en regoor die demokratiese wêreld meer en meer mense sê dat hulle nie gehoor word nie, gaan daar rooi waarskuwingsligte aan.
Vertroue in demokrasie en kapitalisme is nodig. Daarvoor is ‘n aktiewe burgery wat sy regte opeis en homself goed organiseer egter ook nodig. Die huidige agteruitgang van demokrasie en die verlies in vertroue in die globale ekonomiese stelsel kan revolusie tot gevolg hê wat uiteindelik vir almal sleg sal wees.