26 Maart 2022
Die gewilde RSG-omroeper en rubriekskrywer, Esté Gross, sluit vandeesweek, na ‘n baie suksesvolle loopbaan van nege jaar by RSG, by Pretoria FM se uitsaaispan aan.
Gross het vroeër vandag die laaste uitsending van haar klassieke musiek program, Oggendstemming op RSG behartig en sal vanaf 3 April 2022 weekliks Pretoria FM se Sondag-oggendskof vanaf 8h00 tot 13h00 uitsaai. Sy sal ook vanaf Maandag 4 April, daagliks die aanbieder van die gewilde middag aktualiteitsprogram Klankkoerant-Laatmiddag, word.
Haar uitsaailoopbaan het in 2013 afgeskop toe sy met ‘n internskap by RSG begin het en sy werk sedert 2014 as nuusleser, kontinuïteitsaanbieder en programsamesteller vir RSG. Sy is ook ‘n twee-weeklikse rubriekskrywer het onlangs haar tweede enkelsnit Hemelruim uitgereik, wat die nommer-een posisie op talle trefferlyste behaal het.
Die Uitvoerende Voorsitter van Pretoria FM, Willie Spies, het in ‘n verklaring gesê dat Gross se aansluiting by die uitsaaispan van Pretoria FM ‘n belangrike mylpaal is op Pretoria FM se pad om die visie van ‘n wêreldwye, voortreflike radiostem in Afrikaans te wees.
“Terwyl ons mededingers ‘n agteruitgang in belangstelling in hulle nuus- en aktualiteitprogramme beleef, ervaar Pretoria FM die teenoorgestelde. Die lesers- en kykertal van ons aanlyn nuusberigte en visuele nuusuitsendings groei deurlopend. Verder is die lig-klassieke- en gewyde aanslag van ons Sondagprogramme uiters gewild onder radio-luisteraars plaaslik maar ook wêreldwyd op die internet. Ons glo Gross se aansluiting by ons span gaan juis daardie vraag verder bevredig, omdat sy aanvullend tot haar fyn aanvoeling vir die lig-klassieke musiek genre, boonop ‘n jonger stem verteenwoordig”, het Spies gesê.
Gross het in haar reaksie gesê dat sy daarna uitsien om by Pretoria FM se innoverende span aan te sluit en opgewonde is oor die pad en die planne vorentoe.
“2022 is ‘n Opwindende jaar vir Pretoria FM en dit is vir my ‘n voorreg om deel te word van die span”, het sy bygevoeg.