14 September 2023
Die VF Plus sê hy veroordeel alle vorme van georganiseerde misdaad in die Tshwane-metro wat voortspruit uit die voortslepende onwettige Samwu-staking.
Verskeie voertuie, waaronder ʼn bakkie, ʼn watertenkwa, drie vragmotors asook ʼn bus is in verskeie voorvalle in die Pretoria-middestad beskadig. Nog vier voertuie is aan die brand gesteek en ʼn werker is aangerand.
Die VF Plus-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Tshwane-metroraad, Grandi Theunissen sê die voorvalle van geweldsmisdaad het nou ontaard in wat beskou kan word as georganiseerde terreur en geweld wat op die stad, sy eiendom en sy werkers gemik is.
Volgens Theunissen is dit te laat vir die metro om te probeer onderhandel met Samwu. “Daadwerklike polisie-ingryping is nodig om die skuldiges wat eiendom en mense se lewens in gevaar stel, te identifiseer en in hegtenis te neem.”
Hy sê die metro en die VF Plus is dankbaar teenoor vrywilligers wat hul tyd afstaan om te help met dienslewering. “Die metro doen alles in sy vermoë om die situasie in bedwang te bring en versoek die gemeenskap om geduldig te wees met veral met raadslede en amptenare wat self inspring en help.”
