2 Mei 2023
Getroude vroue, en diegene met kinders sal vir die eerste keer toegelaat word om deel te neem aan die jaarlikse Mejuffrou Suid-Afrika-kompetisie.
Die ouderdom van deelnemers is ook gewysig, en moet vroue minstens 20 jaar oud wees om te kan deelneem. Teen Augustus 2023 moet deelnemers ook onder 30 jaar oud wees. Dit beteken dus dat ‘n deelnemer 30 jaar oud kan word, terwyl sy Mejuffrou Suid-Afrika is.
Die formaat van die program verander ook. Vir die eerste keer sal die kompetisie nie op een gala-aand plaasvind nie, maar wel as ‘n TV-werklikheidsreeks, waarin die deelnemers aan verskillende uitdagings sal deelneem. Elke episode sal 60 minute wees.
Volgens die verandering, kan vroue in verhoudings, verloof, getroud of geskei deelneem. Dit was nie voorheen die geval nie.
“Ons het die veranderinge aangebring sodat alle vroue, transgender, lesbies, klein, groot, lank, kort, getroud of ongetroud kan deelneem.”
Die uitvoerende hoof van die Mejuffrou Suid-Afrika-organisasie, Stephanie Weil sê hulle vanjaar meer grense verskuif. Dit kom te midde van verskeie lande wat steeds nie sekere deelnemers toelaat nie. In 2019 is Oekraïne se Veronika Didusenko (24) deur Mejuffrou Wêreld verbied om aan dié kompetisie deel te neem omdat sy ‘n 5-jarige seun het.
Inskrywings sluit Vrydag om 11:30.