10 Oktober 2023
‘n Gautengse gebruiker van die sosiale media-platform, TikTok – wat aan sy volgelinge bekend is as Dr. Matthew Lani – word deur die polisie gesoek nadat die provinsiale gesondheidsdepartement ‘n strafsaak teen hom geopen het omdat hy hom as ‘n mediese dokter voorgedoen het.
Die dokter – wie se identiteit hy glo gesteel het – het ook ‘n strafsaak geopen.
Lani is bekend vir die mediese advies wat hy op TikTok deel, waar hy beweer dat hy ‘n Wits Mediese Skool gegradueerde is en die jongste dokter is wat ‘n farmaseutiese maatskappy in Suid-Afrika besit.
Die departement voer aan dat Lani daarin kon slaag om sy pad deur die stelsel te vind nadat hy die identiteit van ‘n tweedejaar mediese intern by die Tembisa Tersiêre Hospitaal, dr. Sanele Zingelwa, gesteel het.
Die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) het intussen ook met kommer kennis geneem van Lani se videos. Volgens die raad verskyn Lani se naam op geen registers vir gesonheidspersoneel nie.