2 November 2022
Die departement van staatsdiens en administrasie sê daar sit tans 305 staatsamptenare – wat met volle betaling geskors is – by die huis, wat belastingbetalers nagenoeg R131-miljoen per jaar uit die sak jaag.
Die waarnemende minister van staatsdiens en administrasie, Thulas Nxesi, het in reaksie op ‘n parlementêre vraag gesê daar is tans 79 amptenare wat voorkomend geskors is.
Dié sake kos die belastingbetaler meer as R40-miljoen per jaar.
226 amptenare – wat op provinsiale vlak geskors is – verdien steeds ‘n gesamentlike salaris van meer as R90-miljoen per jaar.
Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing maak nie voorsiening dat amptenare sonder betaling geskors word nie, maar kommentators is van mening dat die wetgewer bedoel het dat ondersoeke en dissiplinêre optrede vinniger afgehandel sou word toe die wetgewing opgestel is.