30 Januarie 2024
Die DA in Noordwes sê hy is bekommerd oor die toenemende voorkoms van georganiseerde misdaad in die omgewing van Sannieshof, Ottosdal, Lichtenburg, Biesiesvlei, Setlagole, Delareyville, Koster, Coligny en Itsoseng die afgelope twee maande.
Volgens die party se Carin Visser het boere en kommersiële voedselprodusente meer as R5-miljoen se skade gely.
Sy sê die sindikate – wat vermoedelik oor provinsiale grense heen bedrywig is – is gerat om groot volumes saad, kunsmis, onkruiddoder, gif en diesel te steel.
Volgens Visser kon die polisie tot op hede nog nie ‘n deurbraak maak nie en is minstens twintig sake al aangemeld wat moontlik met mekaar verband hou.
Visser het selfs sover gegaan om te sê dit wil voorkom asof daar met die ondersoeke ingemeng word om die sindikate te beskerm aangesien niemand al in hegtenis geneem is nie – selfs al is moontlike verdagtes aan die polisie uitgewys.