25 Oktober 2022
Inwoners van Kokomeng in Taung, Noordwes, sê hulle het berou oor hulle optrede vier jaar gelede en het die regering gevra omhulle polisiestasie weer te herbou.

In 2018 is die satellietpolisiestasie tydens diensleweringsbetogings geplunder en afgebrand.
Hulle vra nou vir die opknapping van dié polisiestasie, wat vroeër twaalf dorpe in die BaGa-Maidi-groepering bedien het.
Die gemeenskap het destyds die opgradering van die pad tussen Matsheng en Molelema geëis.

Volgens gemeenskapsleiers is daar steeds niks aan die pad gedoen nie en moet inwoners nou boonop vyftig kilometer reis na die Taung-polisiestasie indien hulle dienste van die polisie benodig.
Die provinsiale woordvoerder van die polisie, Sabata Mokgwabomne sê die herbouing van die polisiestasie word deur die hoofkantoor se voorsieningskettingbestuur en die departement van openbare werke hanteer, maar kon nie sê of dié polisiestasie binnekort herstel sal word nie.
Foto’s: SABC.