26 Mei 2023
Die VF Plus sê die departement van gesondheid in Noordwes het geld begroot om vyf hospitale in Mahikeng se name te verander, terwyl daar nié geld is om bababedjies aan te koop nie.

Volgens die VF Plus lid van die provinsiale wetgewer in Noordwes, Erns Kleynhans moes babas hierdie week in kartondose in die Bophelong-provinsiale hospitaal in Mahikeng lê weens ʼn tekort aan geskikte beddens in die hospitaal se neonatale eenheid.
Dit kom nadat die LUR vir gesondheid in Noordwes, Madoda Sambatha vroeër vandeesweek aangekondig het dat daar begroot is vir die naamsverandering van vyf hospitale in dié provinsie.
“Hierdie voorval belig opnuut die feit dat die ANC-regering totaal sy greep op die realiteit verloor het en geen meegevoel het met die lyding van die gewone Suid-Afrikaner nie,” sê Kleynhans.
Hy sê die VF Plus sal daarop aandring dat die portefeuljekomitee oor gesondheid in die wetgewer dringend ‘n oorsigbesoek aan die hospitaal aflê.
