Nuuskommentaar: 7 September
Deur: Jaco Kleynhans
‘n Interessante verhaal uit die geskiedenis van die Sowjetunie gaan oor die bekende kommunistiese Minister van Buitelandse Sake, Andrei Gromyko, wat van 1957 tot 1985 dié posisie beklee het. As hoofdiplomaat vir die Sowjetunie het Gromyko ‘n groot wêreldkaart teen ‘n muur in sy kantoor gehad. Hy het na bewering byna daagliks vir ure tyd voor dié kaart, waarop die Sowjetunie in die middel geposisioneer was, spandeer. Volgens mense wat saam met Gromyko gewerk het, was die wêreldkaart vir hom soos ‘n groot skaakbord en het hy ‘n obsessie daarmee gehad om die Sowjetunie se globale invloed visueel te bly bedink.
Berigte die afgelope paar jaar uit China beweer dat die Chinese president, Xi Jinping dieselfde obsessie met ‘n wêreldkaart, waar China in die middel geposisioneer is, het. Sedert Jinping in 2013 president van China geword het, het hy ‘n aggressiewe benadering begin volg om China se invloed, veral in Asië, maar ook in die meeste ander wêrelddele uit te brei. Jinping praat self in toesprake van ‘n nuwe wêreldorde waarin ‘n sosialistiese China die magtigste ryk op aarde is.
Soos wat die Sowjetunie gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu die wêreld wou domineer en sy ideologie in verskeie wêrelddele ‘n vastrapplek wou gee, is China toenemend onder leiding van Xi Jinping besig om dieselfde te doen.
Verlede week het die Chinese departement van onderwys aangekondig dat alle kinders in Chinese skole, sowel as studente by Chinese universiteite, voortaan ‘n kursus oor die denke van die Chinese president sal moet doen.
Dit is egter nie net in China waar Jinping sy ideologie wil laat verdiep nie. China is besig om universiteite regoor die wêreld te vestig en probeer sy ideologiese invloed in verskeie lande bevorder. In hierdie opsig was Amerika en Navo se nederlaag in Afganistan van groot simboliese betekenis. Jinping het dit as ‘n nederlaag vir Westerse demokrasie afgemaak en China as die ridder op die witperd aangebied.
Na wat in Afganistan gebeur het, is Westerse lande, maar ook die hele demokratiese wêreld ontbloot vir die armoede aan goeie leiers. Met die opmars van die Sowjetunie in die 1970’s en 1980’s was dit juis goeie leierskap in die VSA en talle Europese lande wat die deurslag gegee het om uiteindelik kommunisme te stuit.
Gedurende die 1980’s en die 1990’s was die magtigste mense in die wêreld Westerse leiers. Die saketydskrif Forbes het reeds in 2018 bevind dat die Chinese president Xi Jinping die magtigste persoon in die wêreld is. Sedertdien behou hy dié posisie.
Westerse lande sukkel met ‘n kontinuïteit van sterk leiers. Japan en Duitsland is tans opsoek na nuwe leiers. In Kanada lyk dit of Justin Trudeau die verkiesing gaan verloor. In ander demokrasieë is leiers soos Joe Biden, Boris Johnson, Emmanuel Macron, Mario Draghi en Pedro Sánchez almal in ‘n verswakte posisie. Indien die opmars van outoritêre, eenparty sosialisme en al die gevare wat daarmee saamgaan, deur die wêreld se voorste demokrasieë gestuit moet word, dan sal leiers wat Xi Jinping slim en strategies kan uitoorlê, gevind moet word. Daar is ongelukkig tans nie veel sulke leiers nie en dit beteken dat die Chinese opmars vir eers voortgaan.
Stem vir die Aitsa’s