16 Maart 2024
Na ‘n vergadering vanoggend tussen Rand Water en die onderskeie metro’s in Gauteng, het die waterverskaffer ‘n ernstige beroep op die metro’s gedoen om waterverbruik dadelik beter te bestuur weens die hoë waterverbruik.
Volgens Rand Water verkeer sy netwerk onder ernstige druk, en daarom moet die watertoevoer na sommige gebiede in die Tshwane-metro onmiddelik gesny word.
Die Tshwane-metro sê in ‘n verklaring dat die waterverbruik in die stad tans té hoog is en dat dit gevolglik Rand Water se situasie vererger. Om ‘n totale ineenstorting van die waternetwerk te vermy doen die metro ‘n beroep op inwoners om water spaarsaam te gebruik.
Die watertoevoer na die Garsfontein-reservoir kan tydelik gesny word. Hierdie reservoir bedien talle woonbuurte in die stad insluitend Die Wilgers, Mamelodi, Garsfontein, Lynnwood en Faerie Glen. Ook die Klapperkop reservoir word geraak.