12 Maart 2024
Die VF Plus sê die aantal gebrekkige dossiere wat die Nasionale Vervolgingsgesag terugstuur aan wetstoepassers, dui daarop dat daar ernstige probleme binne die Suid-Afrikaanse Polisie se speurdiens is.
Die leier van die party, dr. Pieter Groenewald sê dit wil voorkom asof 1,8-miljoen strafsake sedert 2018/19 nie aangehoor en afgehandel kon word nie weens gebrekkige dossiere.
Groenewald sê hierdie dossiere is terugverwys na die betrokke speurders met spesifieke aanwysings vir verdere ondersoekwerk aangesien aanklaers weet dat hulle nie sukses kan behaal met swak dossiere nie.
Verder is daar ook talle vakante poste by die speurdiens. Groenewald sê die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, het vroeër aangedui dat die polisie sedert 2016 altesame 8 400 speurders verloor het.
“Die aantal speurders het van 26 000 in 2016/17 afgeneem tot slegs 17 600 in Oktober 2023. Wat die situasie vererger, is dat baie van die speurders wat verlore gaan, gesoute en ervare polisielede is wat met pensioen aftree of na die private sektor gelok word,” sê Groenewald.