Nuuskommentaar: 19 Januarie 2022
Deur: Chanté Kelder
Die matriekuitslae wat vandeesweek bekendgemaak is geniet al heelweek die kollig op meeste koerante se voorblaaie, lees mens egter verder word jy weereens gekonfronteer met stories van korrupsie, gewelddadige aanvalle, moorde en seksuele misdade. Ons is al so gewoond aan die hoë misdaadvlakke in Suid-Afrika dat ons amper nie eers meer kwaad raak as ons lees van nóg ’n moord, nóg ’n korrupte kader of nóg ’n transito rooftog nie, misdaad is nou maar net die ewig teenwoordige skaduwee wat Suid-Afrikaners om elke hoek en draai volg.
Dit is skynbaar makliker en meer lonend om ’n misdadiger te wees in Suid-Afrika as om ’n wetsgehoorsame burger te wees, kyk maar net na die teikens op die rûe van die fluitjieblasers wat voor die Zondo-kommissie teen die korruptes getuig het. Daar is reeds in Januarie vanjaar by twee van hierdie fluitjieblasers se huise ingebreek enkele dae na mekaar – niemand is in hierdie voorvalle beseer nie.
Vuurwapens is maklik bekombaar en wanneer mens lees van die 158 vuurwapens wat onlangs uit ’n pakkamer vir bewysstukke by ’n Johannesburgse polisiekantoor “verdwyn” het verstaan mens ook waarom die gewone landsburger vertroue in die polisie verloor het. In Desember 2021 het Bheki Cele Suid-Afrikaners aangemoedig om “tog misdade aan te meld” om sodoende te help om ’n duideliker prentjie te skets wanneer die kwartaallikse misdaadstatistieke bekendgemaak word. Dit is egter moeilik om iemand wie se foon uit hul hand gegryp is te oortuig om moontlik vir ure by ’n polisiekantoor te gaan sit en wag om deur ongeduldige beamptes gehelp te word. Wanneer dit kom by seksuele misdade wat aangemeld moet word, is dit ’n perd van ’n heel ander kleur. Die hoop dat die misdadigers gevang gaan word vervaag by die dag.
In gevalle waar misdadigers wel gevang word kan niemand verseker sê wanneer geregtigheid gaan geskied nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag se onvermoë, of onwilligheid, om in sekere sake te vervolg vermeng met die howe wat sake keer op keer uitstel dat dit jare op jare kan neem om uiteindelik tot ’n einde te kom dra by tot die ondoeltreffendheid van die strafregstelsel om die nodige respek by misdadigers af te dwing.
Daar word telkens verskeie redes vir die hoë misdaadstatistieke gegee: stygende armoede, werkloosheid, ongelykheid, Suid-Afrikaners se algemene normalisering van die gewelddadige toestand waarin ons leef ensovoorts. Oorweeg egter ’n moontlike alternatiewe rede, die misdaadsyfer is hoog omdat misdadigers nie genoeg respek óf vrees het vir die Suid-Afrikaanse strafregstelsel om gepla te wees oor die moontlike gevolge nie. Die kans dat hulle vervolg gaan word of selfs gevang gaan word, is so klein dat hulle meer as bereid is om die risiko te neem. Daarmee saam is daar skynbaar geen vrees oor die straf wat toegedien gaan word nie.
Lande met laer misdaadsyfers het strenger wette wat meer intens afgedwing word. Landsburgers vrees die gevolge van moontlike misdade en hou hulself uit die versoeking om misdade te pleeg. Die afwesigheid van daardie vrees, die dubbele standaarde in die strafregstelsel en die onvermoë van die nodige outoriteite om doeltreffend te vervolg moet ook van die skuld dra vir Suid-Afrika se stygende misdaadprobleem.