4 Oktober 2021
WAARSKUWING: Die berig bevat foto’s wat sensitiewe lesers kan ontstel.
30 leeus, waarmee geteel is en in hokke aangehou is, moes deur die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) van kant gemaak word weens onlangse veldbrande.

Die DBV sê in ‘n verklaring dat alhoewel dié brande reeds in Augustus in die Brandfort/Glen-omgewing in die Vrystaat voorgekom het, kon dié inligting nou eers bekend gemaak word weens ‘n ondersoek wat afgehandel moes word. Die vereniging sê hul het boere in die omgewing bygestaan nadat die brande talle plase verwoes het.
“Die DBV het die op die derde dag ná die brande afgekom op die plaas waar die leeus aangehou is. Die eienaar het toegang tot sy plaas geweier al is dit erg in die brande beskadig.” Volgens die DBV het die eienaar geweet dat sy leeus erg beseer is en vir vyf dae lank het hul glo geen medikasie ontvang nie.
“Ons is met geen ander keuse gelaat as om toegang tot die plaas te verkry deur middel van ‘n lasbrief nie.” Volgens die senior inspekteur verbonde aan die Bloemfonteinse DBV, Reinet Meyer was inspekteurs geskok deur die hartseer prentjie wat vir hulle in die hokke gewag het.

Sy sê behalwe vir die leeus se beserings was hulle ook erg ondervoed. “Die plaas was in ‘n aaklige toestand, daar is ontlasting en ou karkasse oral.” Meyer sê weens die aard van hulle beserings, het die DBV saam met ‘n veearts besluit om hulle eerder op ‘n menslike manier van kant te maak.
Volgens Meyer was sy in haar 30 jaar by die DBV nog nooit só kwaad nie. Sy sê die leeuboer is van dieremishandeling aangekla.
Stem vir die Aitsa’s