11 September 2023
Die VF Plus sê die Gauteng-regering se plan om 20 000 geslote baan-televisiekameras in die volgende drie jaar in Gauteng te installeer, is ‘n regte stap in die bestryding van misdaad.
‘n Lid van die party se provinsiale wetgewer in Gauteng, Kobus Hoffman sê die VF Plus is egter nie seker of die polisie die druk van 20 000 kameras sal kan hanteer nie, en meen dit is ook geen geheim dat die Gautengse polisie nié genoeg mannekrag het nie.
“Daar is ook nie genoeg voertuie, wapens, ammunisie en skryfbehoeftes om polisiebeamptes in hul taak te help om misdaad suksesvol te bekamp nie. Met die installering van die kameras sal daar gewis ʼn toename wees in sake,” sê Hoffman.
Die Gauteng-regering beplan om in die 2023/24-boekjaar 6 500 kameras te installeer, in 2024/25 6 500 en in 2025/26 7 000. Hy sê die eerste fase sal in die Ekurhuleni-metro plaasvind waar die eerste 144 kameras teen ʼn bedrag van R16-miljoen geïnstalleer sal word.
Die doel van die projek is om veiligheid en sekuriteit in gemeenskappe te verbeter deur die effektiewe monitering van misdaadaktiwiteite.
