7 Julie 2023
Inwoners van Gauteng word aangemoedig om water te stoor nadat Rand Water aangekondig het dat instandhouding by sy Vereeniging-aanleg gedoen moet word.
Volgens die DA se woordvoerder vir infrastruktuur-ontwikkeling in Gauteng, Nico de Jager sal die instandhouding tussen Dinsdag, 11 Julie tot Donderdag, 13 Julie duur. Hy meen die beplande instandhouding is belangrik, maar behoort nie net gedoen te word wanneer probleme voorkom nie.
De Jager sê munisipaliteite aangrensend aan Johannesburg kan ook geraak word.
Inwoners van die volgende gebiede kan geraak word:
• Roodepoort
• Randburg
• Johannesburg-sentraal
• Ennerdale
• Southdale
• Soweto
Volgens De Jager kan die instandhouding moontlik vroeër afgehandel word, maar dit kan tot 14 dae neem voordat reservoirs weer vol is. “Inwoners moet seker maak dat hulle genoeg water in voorraad het vir die twee dae wat die instandhouding gedoen word.”
Hy sê kragonderbrekings kan ook daartoe lei dat watertoevoer langer onderbreek word, as waarvoor Rand Water beplan het.
De Jager het namens die DA weer ‘n ernstige beroep op Rand Water gedoen om eerder pro-aktief op te tree wanneer dit by instandhouding kom, en om nie te wag totdat iets breek nie. “Indien Rand Water nie beter voorsorg tref nie, kan dit die volgende Eskom word.”
Foto: MyBroadband
