Nuuskommentaar: 16 Mei 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Die 49ste beraad van die G7-lande skop eerskomende Vrydag in Hiroshima in Japan af. Vanjaar se G7-beraad vind plaas te midde van ’n oorlog in Europa, groeiende spanning tussen die wêreld se twee sterkste moondhede, die VSA en China, en ook groter wordende kommer oor moontlike konflik in Asië, onder andere tussen China en Taiwan, maar ook tussen Noord- en Suid-Korea. Dat vanjaar se beraad in Asië plaasvind, is dus van groot belang in ’n tyd waarin die wêreld se politieke en ekonomiese mag toenemend na die Ooste verskuif, maar ook in ’n tyd waarin die veiligheidsbedreigings in Asië en die Stille Oseaan-gebied wesenlik toeneem.
Die Japanse eerste minister, Fumio Kishida, was onlangs uitgesproke oor sy land se keuse om vanjaar se beraad in Hiroshima aan te bied. Dié stad is tydens die Tweede Wêreldoorlog deur ’n Amerikaanse kernbom vernietig met enorme lewensverlies. Enkele jare ná die oorlog kon die VSA en Japan die verlede agter hulle plaas en saam werk aan ’n vryer, meer demokratiese wêreld.
Die G7 bestaan uit die wêreld se sewe sterkste pluralistiese demokrasieë, naamlik die VSA, die Verenigde Koninkryk, Japan, Duitsland, Frankryk, Italië en Kanada. Elke jaar nooi die gasheerland ook die staatshoofde van ander demokrasieë uit om die beraad by te woon. Die afgelope paar jaar is Suid-Afrika se staatshoof elke keer uitgenooi. Vanjaar het die Japannese besluit om geen uitnodiging aan Suid-Afrika te rig nie.
Die doelwitte vir vanjaar se G7-beraad is duidelik. Die wêreld se mees ekonomies-ontwikkelde demokrasieë moet duidelik Rusland se oorlog verwerp, maar net so ook China se toenemend aggressiewe optrede in Asië en Chinese globale ekonomiese manipulasie. Daarmee saam moet die voordele van internasionale samewerking, internasionale handel en demokrasie herbevestig word. Daardeur word die duidelike skeidslyn opgestel tussen vrye demokratiese samelewings en geslote, outokratiese lande wat met politieke, ekonomiese en militêre mag globale magsverhoudinge wil manipuleer.
Behalwe vir die gereelde uitnodiging aan die president van die Europese Kommissie is die staatshoofde van Australië, Brasilië, die Comoro-eilande, Indië, Indonesië, Suid-Korea, Oekraïne en Vietnam as waarnemers na vanjaar se beraad genooi. Verlede jaar het president Cyril Ramaphosa nog die beraad in Beiere in Duitsland bygewoon. Dit is egter duidelik dat die G7-lande se frustrasie met Suid-Afrika toeneem en dat die land nie meer as die voorganger in terme van demokrasie en ’n vryemarkekonomie in Afrika beskou word nie.
Meer as tweederdes van Suid-Afrika se uitvoere gaan na G7-lande en die Europese Unie. Meer as tweederdes van buitelandse beleggings in Suid-Afrika kom uit hierdie lande. Die verswakking in die verhouding tussen Suid-Afrika en die wêreld se voorste demokratiese magte word deur die G7-beraad bevestig.
Suid-Afrika het die afgelope drie dekades ’n unieke posisie van voorreg en geleentheid in ons verhouding met die Weste en ander demokratiese magte soos Japan gehad. Hierdie unieke posisie is besig om weens die ideologiese dwaasheid van die ANC-regering vinnig tot ’n einde te kom.
Die boodskap van die G7-leiers by dié naweek se beraad gaan duidelik wees. Ons kan maar net hoop dat Suid-Afrika se regeringsleiers in hulle afwesigheid ernstig sal luister en die land se verhouding met die G7-lande en ander Westerse lande sal herstel.