Die twee Suid-Afrikaanse ingenieurs wat 9 Februarie vanjaar al vir twee jaar in Ekwatoriaal-Guinee gyselaar gehou is, Frik Potgieter en Peter Huxham is terug by die huis, nadat hulle deur die regering van dié sentraal-Afrika-land presidensiële begenadiging toegestaan is.
Die Suid-Afrikaanse regering verwelkom die mans se vrylating wat in Februarie 2023 in hegtenis geneem en tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is.
Volgens Chrispin Phiri, die woordvoerder van die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking volg Huxham en Potgieter se presidensiële begenadiging op volgehoue diplomatieke druk deur die Suid-Afrikaanse regering.
Die proses het die onder meer die ontplooiing van spesiale gesante na Ekwatoriaal-Guinee ingesluit.
“Ons is diep dankbaar teenoor die regering van Ekwatoriaal-Guinee vir hul bereidwilligheid om genade te betoon en vir hul volgehoue samewerking tydens hierdie proses,” het DIRCO in ’n verklaring gesê.
Die regering beklemtoon dat dié stap hom verbind tot die versterking van bilaterale bande met Ekwatoriaal-Guinee en om uitdagings voortaan op ’n diplomatieke en respekvolle wyse die hoof te bied.
Potgieter and Huxham het gisteraand in Suid-Afrika aangekom. Die minister van internasionale betrekkinge, Ronald Lamola, het hulle by die Lanseria-lughawe ingewag.
Die mans se families het hul dankbaarheid teenoor ieder en elk uitgespreek wat sonder ophou agter die skerms gewerk het, insluitend hul werkgewer, SBM Offshore, die Suid-Afrikaanse en Britse regerings, internasionale diplomatieke vennote en Hostage International, om Potgieter en Huxham se vrylating te bewerkstellig.