26 September 2023
Die hooggeregshof in Pretoria het die minister van polisie gelas om R150 000 skadevergoeding te betaal aan ‘n man wat in hegtenis geneem is omdat hy tydens die Covid-19 inperkingsperiode formulemelk vir sy baba gaan koop het.
Naas le Roux het aangevoer dat hy laataand agtergekom het dat daar ‘n probleem was met sy twee-dag-oue baba te voer en dat hy op soek was na ‘n noodapteek om formulemelk te koop.
Hy is in hegtenis geneem en moes die aand in die selle deurbring.
Le Roux het tydens ‘n onderhoud met Lester Kiewiet gesê hy het gedurende die hofverrigtinge gevoel dat die polisie nie skuld beken of ontken nie, maar bloot net die verrigtinge wil afhandel om hom uit hulle hare te kry.
Hy het bygevoeg dat geen bedrag in skadevergoeding hom sover gaan kry om weer die polisie te vertrou nie.