25 Maart 2022
Forensiese ondersoekers het met behulp van biometriese gesigvergelykings bevestig dat dit wél Zandile Christmas Mafe was, wat op kringtelevisiebeeldmateriaal gesien is toe die parlement aan die brand gesteek is.

Die 49-jarige Mafe het weer vanoggend vlugtig in die hof verskyn in verband met brand op 2 Januarie 2022. Hy staar aanklagte van huisbraak, terreur, brandstigting en diefstal in die gesig.
Die saak is verlede maand uitgestel onder meer omdat die staat gewag het vir ‘n verslag van die strukturele ingenieurs om te bevestig dat die gebou veilig is vir ondersoekers om die gebou te mag binnegaan.
Volgens die staatsaanklaer, Mervyn Menigo kon die ondersoekspan op 15 Maart toegang tot die parlement verkry, maar is dit steeds gevaarlik. Daar is ook nog 50 ton water in die Nasionale vergadering, wat verwyder moet word.
Die saak is tot 12 Mei vir verdere ondersoek uitgestel.