21 Februarie 2023
Die hoof uitvoerende beampte van Solidariteit, dr Dirk Hermann sê die regering moet ophou om – soos hy dit stel – ramptoestand te speel en eerder indringende besluite neem om die kragkrisis die hoof te bied.
Hermann het in ‘n plasing op die sosiale media gesê volgens lede van dié vakbond – wat senior bestuursposte by Eskom beklee – is die kragnetwerk onder geweldige druk en is fase-8 beurtkrag ‘n wesenlike moontlikheid.
Hy sê hoewel die kans weglaatbaar klein is dat die netwerk in sy geheel ineen kan stort, is fase 8-beurtkrag Suid-Afrika se voorland indien daar nie vandag ernstige ingrype is nie.
Die vakbond se lede voer glo aan dat die grootste noodsaak in Eskom nou stabiliteit is, en Hermann sê die raad en ministers moet ophou om op bedryfsvlak in te meng.