8 Mei 2023
Die kragnetwerk is onder geweldige druk en hoewel die kanse vir fase 7-beurtkrag hierdie week wesenlik is, lyk dit of fase 6-beurtkrag die hele week Suid-Afrika se voorland gaan wees.
Volgens die bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, dr. Dirk Hermann, is dit die terugvoer wat die vakbond van sy lede by Eskom ontvang het.
Hermann het beklemtoon dat daar steeds geen sprake is van ʼn totale ineenstorting van die netwerk nie.
Meer as 4 500 megawatt van Eskom se opwekkingsvermoeë is tans nie beskikbaar nie weens beplande instandhouding, terwyl meer as 19 000 megawatt weens onbeplande onderbrekings verlore is.
“In plaas van rondhardloop en allerhande ander planne en nogmaals planne maak, moet die regering aggressief ‘n bedeling skep wat dit vir die privaatsektor tegnies en kommersieël moontlik maak om krag aan die netwerk te verskaf. Die privaatsektor en huishoudings sal vir ons kragstasies bou,” sê Hermann.
