22 Junie 2021
Die pa van die vermoorde Leigh Matthews het aangedui dat sy gesin haar veroordeelde moordenaar se paroolaansoek gaan teenstaan.
Donovan Moodley is skuldig bevind vir die ontvoering van en moord op die 21-jarige student in 2004.
Rob Matthews het uitgevaar teen die stelsel en sê die familie is nie in kennis gestel dat Moodley dalk binnekort in aanmerking kan kom vir parool nie.
Hy het ook gesê die paroolraad neem nie die slagoffers van geweld se naasbestaandes in ag nie. Matthews is ook van mening dat Moodley geen berou toon oor sy dade nie.
Die familie word bygestaan deur die groep, Vroue en Mans teen Kindermishandeling. Volgens dié groep se woordvoerder, Luke Lamprecht is daar talle besonderhede van die moord, wat Moodley nog nooit bevestig het nie.
Matthews is destyds deur Moodley ontvoer toe sy Bond Universiteit se Sandton-kampus verlaat het. Hy het voorgegee om ‘n student te wees, wat ‘n rygeleentheid wou hê.
Moodley het R 50 000 as losprys geëis, maar Matthews het nooit teruggekeer huis toe nie.
Haar naakte liggaam is twee weke later in Walkerville gevind.