15 Junie 2021
Die familie van die 37-jarige vrou van Tembisa, wat sedert verlede week ‘n storm op sosiale media veroorsaak het, weens die nuus dat sy “geboorte geskenk” het aan ‘n tienling – sê daar is geen bewyse van dié babas se bestaan nie.
Die familie het laat vanmiddag ‘n verklaring uitgereik waarin hulle sê dat hulle bereid is om toe te gee dat die babas nooit gebore is nie en sal dit glo totdat hulle anders bewys kan word.
Die “babas” se pa, Tebogo Tsotetsi kon ook nog geen bewyse van die beweerde geboorte kry nie, behalwe boodskappe wat deur Sithole aan hom gestuur is. Hy het geen foto’s ontvang nie en “kon weens Covid-19-regulasies nie sy meisie of babas besoek nie.”
LEES OOK: PA VAN “TIENLING” VRA OM VIR EERS MET SKENKINGS TE STOP
Sithole was ook sedert die “geboorte” geheimsinnig oor haar doen en late en het onder andere beweer dat sy in die Medforum-hospitaal, Louis Pasteur-hospitaal en Steve Biko-hospitaal behandel is, hoewel al die hospitale ontken het dat so ‘n pasiënt by hulle is.
Die familie het om verskoning gevra vir enige moontlike verleentheid, wat die bewerings veroorsaak het.
Hulle het opnuut ‘n beroep op mense gedoen om nié skenkings te maak nie en dat hulle steeds na haar soek omdat hulle nog geen idee het waar sy haarself bevind nie. Volgens die familie sal hulle nou hulle aandag vestig op die veilige terugkeer van Sithole.
Sosial media-gebruikers het ook reeds – oudergewoonte – op dié nuus gereageer.