13 Februarie 2023
‘n Sjokoladefabriek in Elizabethtown in Pennsylvania in Amerika is tot $14 500 (R261 000) deur die Amerikaanse werkplekveiligheidsreguleerders beboet nadat twee werknemers in ‘n tenk vol sjokolade geval het.
Volgens ‘n berig deur die BBC het die voorval reeds in Junie 2022 plaasgevind, maar ‘n ondersoek deur die reguleerders is nou eers afgehandel. Die betrokke werknemers is nie permanente werkers by die Mars Wrigley Sjokoladefabriek nie, en is gekontrakteer.
Volgens die BBC moes ‘n gat onder die tenk ingesny word sodat die werkers bevry kon word. Een van die werknemers moes na ‘n hospitaal geneem word.
Die reguleerder het in sy ondersoek gevind dat die nodige veiligheidsmaatreëls nie in plek was toe die kontrakteurs aangestel is om die tenks skoon te maak nie. Hulle was glo ook nie goed genoeg opgelei nie.
‘n Woordvoerder vir die Mars Wrigley-fabriek het die uitkoms van die ondersoek verwelkom. “Veiligheid van werknemers is vir ons baie belangrik.”