Nuuskommentaar: 26 November 2021
Deur: Jan Bosman
In Desember 2005 het skade aan die Koeberg Kragsentrale en wat tot enorme beurkrag gelei het, vir Alec Erwin die destydse Minister van Openbare Ondernemings, genoop om dit sabotasie te noem. Hy het later ontken dat hy die word sabotasie gebruik het.
Verskeie aksies by Eskom in die laaste weke word nou weer sabotasie genoem. Suid-Afrika steier onder voortdurende beurtkrag en word ons telkens herinner aan die grootskaalse plundertog en onluste van Julie 2021 wat ook telkens uitgewys was as beplande onluste en destabilisasie. Niemand is nog hieroor vervolg nie. Ons lewe dus elke dag met die onrustige wete dat daar mense is wat beplan om die land onregeerbaar te maak en is die sabotasie van ons kragopwekking en netwerke deel hiervan.
Anders as in 2005 toe ons waarskynlik nog die vermoë gehad het om sterk en doeltreffend op te tree teen enige persoon of organisasie wat dit sou waag om instellings te saboteer wat ʼn essensiële infrastruktuur fasiliteit is, het Suid-Afrika nie meer die kapasiteit nie. Die ondersoek en vervolgingskapasiteit is eenvoudig geërodeer deur kader ontplooiing en regstellende aksie. Die vraag moet gevra word waarom Wet 33 van 2004 wat bekend staan as “Die Beskerming van die Konstitusionele Demokrasie teen terroriste en verwante aktiwiteite” nie ingespan word nie. (In Engels lees die Wet Protection of Constitutional Democracy against Terrorist and Related Activities Act 33 of 2004) Alhoewel die Wet meer daarop gerig is om te voldoen aan buitelandse konvensies is dit ʼn wet wat as basis gebruik kan word om binnelandse terreur wat sabotasie insluit, hok te slaan en te vervolg.
Eskom, net soos die staat en ander staatsondersteunde instellings ervaar kommerwekkende tendense van staatsverswakking soos eskalerende korrupsie en nepotisme; die gebrekkige instandhouding van infrastruktuur; diensleweringsuitdagings; en talle ander regeerkundige en politieke bestuurskwessies.
Sabotasie van infrastruktuur kan die reeds verswakte instellings en die dienste wat hulle lewer onherstelbaar vernietig. Die vraag is of dit so beplan word? Vertroue in die staat is waarskynlik op die laagste vlakke ooit. Die regering en staat beskik nie oor die wil om beheer oor hierdie situasie te kry nie en is self diep verdeeld in verskillende faksies. Is die faksie gevegte se stryd nou ook sigbaar in die doelbewuste staatsverlamming en moontlike sabotasie van infrastruktuur?
Indien bestaande wetgewing nie voldoende is nie, moet wetgewing voorberei word om misdaadterreur en ekonomiese sabotasie drasties aan te spreek en te vervolg. Is dit gebrekkige politieke wil of gebrekkige wetgewing wat nie voorsiening maak vir drastiese optrede teen misdaad deur terreur en sabotasie en wat die nodige tande gee aan vervolginstellings wat die saboteurs of terroriste doeltreffend en sigbaar kan vervolg nie? Ons moet ook nie meer skroom om dit sagkens te hanteer met mooiklinkende en polities korrekte terme nie. Noem dit by die naam. Of dit nou pligsversuim is, nalatigheid of doelbewuste sabotasie is dit bly aksies van terreur. Wet 33 van 2004 se omskrywing van ʼn terroriste aktiwiteite is (Vryvertaal) enige aksie in die Republiek wat daarop gerig is om ernstige inmenging of ontwrigting van enige essensiële diens, fasiliteit of stelsel, te veroorsaak of met die lewering van sodanige dienste van fasiliteite of stelsel of dit nou openbaar of privaat en sluit essensiële infrastruktuur in.
Suid-Afrika was lank die paradys vir misdadigers wat as politici en amptenare die land geplunder het. Dit is verdoesel as staatskaping. Wanneer die politieke faksies egter nou die infrastruktuur begin saboteer moet daar opgetree word. Nou word dit nie meer kriminele dade nie, maar dade van terreur deur sabotasie van infrastruktuur. Dit roep vir vervolging en dit sluit aandadige lede van enige politieke faksie of amptenaar of werker in. Dit behoort ook die diefstal van infrastruktuur of dit nou kragkabels of spoorstawe is in te sluit.
Stem vir die Aitsa’s