23 Augustus 2022
Eskom sê hy oorweeg dit om die Tshwane metroraad se elektrisiteitstoevoer in geheel af te sny – in ‘n poging om die raad sover te kry om sy uitstaande skuld te vereffen.
Volgens die nutsmaatskappy skuld die raad hom nagenoeg R1,6-miljard – wat op 17 Augustus betaalbaar geword het.
Die raad het glo net R68-miljoen oorbetaal wat skaars ‘n duik in sy agterstallige skuld gemaak het. Eskom sê hy het reeds verskeie kere met die metroraad geskakel in ‘n poging om die raad sover te kry om sy skuld te vereffen.
Volgens die kragvoorsiener plaas die stad se aanhoudende versuim om sy betalings na te kom ’n groot las op hom om voort te gaan met die verskaffing van elektrisiteit.
Eskom sal voortgaan om verskillende benaderings toe te pas om geld wat aan hom verskuldig is te verhaal en het die LUR van samewerkende regering en tradisionele sake ingelig van die risiko’s verbonde aan die laat-betaling van Tshwane se elektrisiteitsrekening.