17 Januarie 2022
Erfenisskatte vanuit en van adv. JG Strijdom, voormalige eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, sal eersdaags in die Vrystaat te sien wees.
Personeel van die Erfenisstigting (ES) by die Voortrekkermonument in Pretoria het in Augustus verlede jaar Strijdom se huis in Modimolle (voorheen Nylstroom) gaan oppak.

Dié stigting het ’n bruikleenooreenkoms met die Limpopo provinsiale departement van sport, kuns en kultuur, asook die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit aangegaan. Sedertdien is die ES amptelik die bewaarders van die Strijdomhuis se skatte.
Personeel van die ES en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die afgelope naweek hande gevat om die laaste groter items, waaronder ’n perdekar, AGA-koolstoof en ’n borsbeeld van Strijdom, wat nog oorgebly het by die Strijdomhuis te gaan verwyder en dit na die FAK se Udolpho Rivierplaas naby Parys in die Vrystaat geneem.
Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, sê die erfenisskatte van Strijdom gaan eersdaags in die Ou Plaashuis by die Udolpho Rivierplaas uitgestal word.
“JG Strijdom het die monumentekomitee, wat later die monumentekommissie geword het, op die been gebring. Dit is ’n baie groot voorreg om nou hierdie bewaringsdiens aan hierdie man (Strijdom) 70 jaar later terug te bewys, sê Malan”

Adv. JG Strijdom was die vyfde eerste minister van die Unie van Suid-Afrika van 1954 tot sy dood in 1958. Strijdom, wat bekend gestaan het as die Leeu van die Noorde, se huis is in 1976 as museum verklaar.