8 Mei 2023
Boere het begin om onwettige entstof te gebruik om te verhoed dat skape aan bloutongsiekte vrek weens ‘n ernstige tekort aan entstowwe wat deur die staatsbeheerde Onderstepoort Biologiese Produkte, OBP, vervaardig word.
Die Rooivleisprodusente-organisasie sê die tekort aan die entstowwe bedreig voedselsekerheid deur die hoë aantal veevrektes wat voorkom.
Volgens die voorsitter van die RPO, James Faber, het die tekort aan strategiese entstowwe in die vee- en dierebedryf nou rampspoedige afmetings aangeneem.
OBP is die enigste produsent van entstowwe teen Afrika-perdesiekte, slenkdalkoors, en bloutong, maar verouderde en stukkende vervaardigingstoerusting het gelei tot konstante vertragings in die vervaardiging van dié entstowwe.
Die minister van landbou, Thoko Didiza dra kennis van die probleme en het die farmaseutiese maatskappy, Aspen, gevra om OBP te help met tegniese en ingenieursadvies om die probleem uit die weg te probeer ruim.