Nuuskommentaar: 11 Oktober 2021
Deur: Jaco Kleynhans
Die prys van ruolie het die afgelope Vrydag tot die hoogste vlak in sewe jaar gestyg. Die olieprys het vanjaar reeds met 60% toegeneem soos wat vraag na olie toeneem soos wat die globale ekonomie na die Covid-19-pandemie herstel en energieverbruik skerp styg. In Europa en Asië was daar die afgelope tyd ook ‘n skerp toename in gaspryse wat ernstige kommer oor veral die koste van verhitting van huise en ander geboue or die komende winter laat ontstaan.
Die prys van aardgas, wat op grootskaal in Europa vir veral verhitting gebruik word, het vanjaar reeds met 400% in Europa gestyg. Verskeie Europese regerings het verlede week gesê dat baie huishoudings teen die huidige pryse nie vanjaar sal kan bekostig om hulle huise te verhit nie.
Die regerings van Spanje, Italië, Griekeland en Frankryk het voorgestel dat die Europese Unie drastiese stappe onderneem om die gevolge van hierdie stygende pryse op verbruikers te verlig. Die Russiese president Wladimir Poetin het aangekondig dat Rusland meer aardgas aan Europese lande sal verkoop.
Die Europese Unie se kommissaris vir energie, Kadri Simson, het Vrydag gesê dat die EU egter nie die bevoegdheid het om energiepryse te beïnvloed nie en dat nasionale regerings stappe moet neem om self verbruikers te beskerm. Die probleem volgens haar, en die meeste energie-analiste, is egter dat die huidige tekort aan gas, en stygende gaspryse, aan onder andere, die koue lente vroeër vanjaar in Europa, strukturele probleme met aankope van gas en ander energiebronne en die skerp styging in vraag weens beter as verwagte ekonomiese herstel, toegeskryf kan word. Daar is geen enkele maklike oplossing hiervoor nie.
Tydens die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie was daar baie laer vraag na olie, gas, steenkool en ander energiebronne. Die toename in vraag na energie, het baie lande onkant betrap met te lae voorraadvlakke, probleme met die voorsiening, vervoer en verwerking gas, olie en steenkool en uiteindelik vrese dat daar die komende winter in die noordelike halfrond tekorte kan ontstaan.
Die gevolg hiervan is pryse wat skerp styg, wat sonder twyfel bydra tot inflasie, wat reeds in talle ontwikkelende lande kommerwekkend hoog is. Die Organisasie van Petroleum Uitvoerlande (OPEC) het reeds aangekondig dat hulle, hulle produksie gaan verhoog. Vanaf 4 Oktober is olieproduksie reeds met 400 000 vaatjies per dag verhoog en dit sal aan die begin van November met nog 400 000 per dag verhoog word. Die VSA en Europa voel egter dat hierdie verhoging onvoldoende is.
Terwyl verskeie lande en instellings soos die Europese Unie die stryd teen klimaatsverandering probeer prioritiseer, kan die huidige globale energie-uitdagings egter hierdie stryd vir eers oorskadu. Die Verenigde Nasies se konferensie oor klimaatsverandering skop op 31 Oktober in Glasgow in Skotland af en dit is juis lande in Europa wat die meeste klem op klimaatsverandering en die noodsaak vir alternatiewe energie probeer plaas.
Daar is egter ‘n groot gaping tussen drome en ideale oor alternatiewe energie en die stryd teen klimaatsverandering en die globale ekonomie se huidige energiebehoeftes. Stygende energiepryse, tekorte aan brandstof, gas en elektrisiteit en die politieke, maatskaplike en ekonomiese gevolge hiervan bied tans ‘n enorme globale uitdaging wat eers hanteer sal moet word. Ook Suid-Afrika se ekonomiese herstel gaan deur stygende energiepryse geraak word.
Stem vir die Aitsa’s