Nuuskommentaar: 6 April 2022
Deur: Alet Rademeyer
Vandag (6 April) vier óns Stigtingsdag, Jan van Riebeeck-dag of Volkplantingsdag. Hang af hoe oud jy is. Baie jongmense sal nie eens weet waarvan ons nou praat nie.
En dít is verkeerd. Dis tyd om hierdie deel van ons geskiedenis weer te vier.
Was dit nie vir Jan van Riebeeck nie, was ons nie vandag hier nie. Dit is nie iets om oor skaam, verleë of kwaad te wees nie. Dis eerder ’n rede om trots te wees! Die stukkie geskiedenis is vroeër in baie Afrikaner-huise én skole van geslag tot geslag oorgedra. Maar hoe klink die verhaal nou weer?
Jan is op 21 April 1619 in Nederland gebore. Sy ma is dood toe hy maar 10 was. Hy het uit vooraanstaande familie gekom. Sy pa was ’n waaghalse skeepskaptein. Sy oupa het hom grootgemaak en laat leer. Jan wou ’n skeepsdokter word. Ná sy studies gaan werk hy by die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Dit was ’n groot maatskappy wat handel met die Ooste gedryf het en skeepsvaart om die suidpunt van Afrika tussen Nederland en die Oos-Indië beheer het. Jan het as onder-skeepsdokter begin en gevorder van klerk, onderkoopman tot waarnemende opperhoof by die Kompanjie. Die Kompanjie het nie hul amptenare goed betaal nie. Jan het sy geld probeer aanvul deur privaathandel. Dit het sy ondergang beteken en hy is teruggeroep Nederland toe. Hy ontmoet toe die sagmoedige Maria de Oueillerie, wat van Franse afkoms was. Sy was baie gelowig en hulle trou in 1649. Voordat Maria op die ouderdom van 35 dood is, het hulle 9 kinders gehad.
Die Kompanjie gee Jan weer werk en op 24 Desember 1651 vertrek hy, Maria, hul 4 maande oue seun Lambertus en twee niggies met die skip Drommedaris uit Texel na die Kaap. Die Reyger en Goede Hoop het met sowat 90 man saam vertrek. Jan was nie te opgewonde om na die Kaap te kom nie. Hy het ander ideale gehad.
Daar was van die begin af probleme in die Kaap. Die winters was nat en koud en die huise nie bestand teen die reën nie. Tog bou hulle ’n fort en Eva, ’n Khoikhoi-meisie trek saam met hulle in die klipgebou in. Die toestande verbeter tog en daar word begin om vee met die plaaslike gemeenskap te ruil en na werkers vir die plase te soek. Die Khoi en die San wou nie die werk doen nie en dit was die begin van die invoer van slawe. Ander maniere was om amptenare vry te stel wat as vryburgers begin boer het en later in die Boere en Afrikaners ontwikkel het.
Uiteindelik is Jan vry van sy Kaapse worstelinge en in 1662 vertrek hy en Maria en hul dogter op die skip Mars na Batavia. Jan was tog trots op wat hy bereik het en met sy vertrek was daar ’n kolonie met ’n hospitaal, winkels, meule, graanskuur, huise, perdestalle, beeste, skape en groente- en vrugtetuine. Jan het later president van Malakka (vandag Maleisië) geword. Maria sterf en hy trou weer met ’n Maria. Op 18 Januarie 1677 sterf hierdie stamvader van die Afrikaner in Batavia.
Die ANC wil ons vandag wysmaak Jan se koms was die begin van alle probleme in die land. Gelukkig weet ons van beter. Jan het die Westerse beskawing, argitektuur en verchristeliking na die suidpunt van Afrika gebring. En daarvoor eer ons steeds sy nagedagtenis…