31 Augustus 2023
Die gewilde omroeper, Elsa Esterhuizen, sluit vandeesweek by Pretoria FM se uitsaaispan aan.
Esterhuizen sal vanaf 1 September 2023 daagliks Pretoria FM se vroegoggendskof vanaf 5h00 tot 6h00 uitsaai en sal ook inskakel as joernalis by die Klankkoerantspan.
Haar uitsaailoopbaan het in 2012 afgeskop toe sy haar debuut op Bosveld Stereo gemaak het en was onder andere ook radio-omroeper, nuusleser, vertaler, skrywer, navorser en nuussamesteller by Groot FM en eTV Sunrise. Van 2015 tot 2022 was sy nuusleser en aktualiteitsaanbieder by Die Groot Ontbyt op kykNET en Groot FM, waarna sy ook die aanbieder was van die landbouprogram, Grootplaas.
Luisteraars het haar ook gesien in kykNET Verslag. As inhoudregisseur was sy betrokke by die produksie Prontuit en tot onlangs produksiebestuurder en joernalis van In Gesprek.
Die Uitvoerende Voorsitter van Pretoria FM, Willie Spies, het in ‘n verklaring gesê: “Pretoria FM vier hierdie jaar sy 30ste verjaarsdag en Elsa se aansluiting by die uitsaaispan van Pretoria FM is nog ‘n belangrike mylpaal op Pretoria FM se pad om die visie van ‘n wêreldwye, voortreflike radiostem in Afrikaans te wees.”
“Terwyl ons mededingers ‘n agteruitgang in belangstelling in hulle nuus- en aktualiteitprogramme beleef, ervaar Pretoria FM die teenoorgestelde. Die lesers- en kykertal van ons aanlyn nuusberigte en visuele nuusuitsendings groei deurlopend. Ons glo Elsa Esterhuizen se aansluiting by ons span gaan juis daardie vraag verder bevredig, omdat sy hope ervaring en talent ons die nuusafdeling en vroegoggendskof gaan inploeg”, het Spies gesê.
Elsa Esterhuizen het in haar reaksie gesê dat sy daarna uitsien om by Pretoria FM se innoverende span aan te sluit en ek is opgewonde oor die pad en die planne vorentoe.
“2023 is ‘n opwindende jaar vir Pretoria FM en dit is vir my ‘n voorreg om deel te word van die span”, het sy bygevoeg.
