22 Desember 2021
Die stroping van wildspesies soos renosters en olifante is ’n uitdagende omgewingsvraagstuk waarteen wildbewaarders in Afrika al vir dekades ’n stryd voer.
Verlede jaar is minstens 394 renosters in Suid-Afrika vir hul horings gestroop.
Teenstropingseenhede op die vasteland het nou kragte saamgesnoer met ’n Sweedse elektriese motorfietsmaatskappy, CAKE, om omgewingsbewaring ’n hupstoot te gee.
CAKE het ’n elektriese motorfiets, die Kalk AP (wat staan vir antipoaching) saam met die Suider-Afrikaanse Wildlewekollege in Mpumalanga ontwikkel vir teenstropingspatrolleerders om stropers geruisloos te kan vastrek.
Motorfietse is ideaal vir teenstropingseenhede, omdat hulle rats is, maar die brandstofmotorfietse wat tans in gebruik is maak ’n groot geraas en waarsku die stropers al van kilometers ver af dat veldwagters op pad is, wat hulle in staat stel om hulself vinnig uit die voete te maak.
Die Kalk AP is uitgeknip vir teenstropingsbedrywighede in die bos en kan sommer met sonkrag gelaai word. Die verkryging van brandstof (wat in afgeleë gebiede skaars is en met vragmotors of helikopters vervoer moet word) en die koste daarvan is dus nadele wat voortaan uit die weg geruim sal kan word.
“Die Kalk AP beweeg amper heeltemal geruisloos in teenstelling met die tradisionele veldfietse wat ’n desibel-vlak gelykstaande aan dié van ’n grassnyer het. Die Kalk AP is ook spesiaal vir die warm, droë, stowwerige en modderige toestande van die Afrika-bos ontwerp met 18-duim boendoebande, aangepaste vering en verhoogde bestendigheid. Hy kan ’n spoed van tot 72 km/h bereik,” sê CAKE se stigter, Stefan Ytterborn.
Die motorfietse word tans getoets en sal dan in die veld ingespan word.

Fotokrediet: CAKE