10 Maart 2023
Die burgemeester van die Tshwane-metro, Marunwa Makwarela, sê dit is onregverdig dat hy deur die media verhoor word.
Makwarela het vanoggend vinnig die media toegespreek by Tshwane Huis, om te wys dat hy terug by sy kantoor is om sy werk as burgemeester te hervat.
Makwarela sê hy weet daar is baie vrae oor die egtheid van sy rehabilitasie sertifikaat wat hy aan die stadsbestuurder Johann Mettler verskaf het, maar sê hy wil eerder hê die egtheid daarvan moet deur die howe bevestig word.
Hy sê sy regspan ondersoek ook die saak, en sal mettertyd kommentaar lewer.
Makwarela sê sy werk is om seker te maak dat dienste gelewer word aan die inwoners van die stad, en nie om te fokus op die narratief dat hy insolvent of bankrot is nie.
Hy sê ook hy sal sy “kabinet” finaliseer. Makwarela is nog in gesprek om sy burgemeesterskomiteelede aan te stel.