14 Februarie 2023
Die bekende Suid-Afrikaanse sanger, Steve Hofmeyr sal nié meer aan volgende week se Kappityt-fees op die MSC Sinfonia-skip deelneem nie.
In ‘n video op sy Facebook-blad meen Hofmeyr dat die fees se organiseerders, Lefra Produksies besluit het om sy optrede te kanselleer weens druk deur die aktivis Johan Sloet de Villiers, wat ook die stigter van die African-European Indaba is.
De Villiers, wat in Amsterdam woon, het glo organiseerders attent gemaak op omstredenheid rakende Hofmeyr se uitlatings wat die LGBTQI+ gemeenskap betref.
Die skip vaar tussen Kaapstad en Namibië.
De Villiers het op sy Facebook-blad geskryf dat hy daarin kon slaag “om Hofmeyr en sy regse opinies van die skip af te hou.” Hy het die MSC-maatskappy bedank vir hulle besluit.
Hofmeyr sê in die video dat hy nooit weer sy voete sal sit op enige van die MSC-skepe nie en het ‘n beroep op mense gedoen om hulle kaartjies te kanselleer.
Die MSC-maatskappy se woordvoerder, Thango Gombiza sê die maatskappy is nie verantwoordelik vir enige besonderhede van die fees nie, en dat ‘n derde party daarvoor moet pa staan.
Sy sê Hofmeyr word ingevolge sy kontrak steeds betaal al tree hy nie meer op nie.
Lefra Produksies se besturende direkteur, Frans Swart het om verskoning gevra aan Hofmeyr se aanhangers, en meen hulle kan nou uitsien na optredes van Bobby van Jaarsveld in Hofmeyr se plek.