10 November 2022
Die EFF leier Julius Malema sê hy sal nie om verskoning vra vir sy onlangse opruiende uitlatings nie.
Malema het vroeër op ‘n EFF konferensie in die Wes-Kaap aan afgevaardigdes gesê hulle moenie bang wees om dood te maak nie, en het gesê daar moet afgereken word met ‘n wit man wat volgens hom rassisties opgetree het.
Die Menseregtekommissie (MRK) het Malema gelas om binne 10 dae op klagte van aanhitsing tot geweld en haatspraak te reageer, en om verskoning te vra.
LEES OOK: MALEMA MOET JAMMER SÊ NÁ UITLATINGS OOR “WIT RASSISTE”
Malema sê die MRK is nie onafhanklik nie, want hy is nie die geleentheid gegee om sy kant te stel nie. Die MRK het aangedui dat dit die Gelyksheidshof sal nader om ’n tussentydse interdik te bekom indien Malema en die EFF nie aan hulle bevinding gehoor gee nie.
Intussen het AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud, Ernst van Zyl in reaksie op die MRK se aankondiging gesê dat die organisasie hierdie ontwikkeling beskou as slegs die eerste stap om aanhitsing tot geweld en haatspraak deur die EFF en Malema stop te sit.
LEES OOK: VF PLUS DIEN KLAGTE BY POLISIEKANTOOR IN TEEN MALEMA OOR UITLATINGS
“AfriForum verwelkom die MRK se bevindinge, maar as hul veroordeling nie dringend en daadwerklik deur aksie opgevolg word nie, beteken dit nie veel om minderhede te help beskerm nie,” sê Van Zyl.
Ook die leier van die VF Plus, dr, Pieter Groenewald ook die verwikkelinge verwelkom. “Hierdie stap van die MRK word veral verwelkom aangesien talle klagte wat die VF Plus en ander organisasies oor jare teen Malema ingedien het, bloot geen reaksie gekry het nie.”