Graham Dickason, die man van Lauren Dickason (42), wat glo haar drie dogtertjies, Liané (6) en die 2-jarige tweeling, Maya en Karla vermoor het is vroeër vandag kruisondervra nadat hy gister sy getuienis gelewer het.

Die gesin het in 2021 na Nieu-Seeland emigreer, en kort daarna op 16 September is die kinders vermoor. Lauren het erken dat sy die dogtertjies vermoor het, maar het onskuldig gepleit. Sy sê weens haar geestesgesondheid is sy nie toerekensvatbaar nie.
Lauren se prokureur, Anne Toohey sê Graham het op ‘n keer vir sy vrou gesê dat sy haarself moet regruk toe sy aan hom vertel dat sy hulle kinders wil doodmaak.
Volgens Toohey het Graham vir Lauren gevloek. Hy het ook glo sy hande op die bed geslaan waar sy gesit het.
Graham het egter geantwoord dat hy nie daardie presiese woorde gebruik het nie. Toohey wou ook verder by hom weet of hy die volle omvang van sy vrou se geestestoestand verstaan het. Die staat voer aan dat Lauren vooraf beplan het om die kinders te vermoor omdat sy navorsing gedoen het oor die dood van kinders.

Volgens Graham is dit waar dat Lauren ‘n paar keer, in ‘n oomblik van frustrasie gedreig het om die kinders skade aan te doen, maar hy het nooit gedink dat sy enigsins sal oorgaan in aksie nie.
Graham wat die hofgebeure aanlyn vanaf Suid-Afrika bywoon het ook meer lig gewerp op die egpaar se stryd om swanger te raak. Hy sê hulle het 17 rondtes van ini-vitro-bevrugting deurgegaan, maar was onsuksesvol. Die egpaar het skenkereiers gebruik om met al drie dogtertjies swanger te raak.
