Nuuskommentaar: 23 Januarie 2023
Deur: Julius Kleynhans
Talle ander lande trek voordeel uit gewone dorpe se inwoners wat sonkrag op hul huise se dakke opwek en dit verkoop aan die plaaslike munisipaliteit. In ander lande is die beweegrede hiervoor hoofsaaklik om geld te bespaar en om die druk op die plaaslike krag diensverskaffer te verlig. Maar in Suid-Afrika is die beweegrede agter die baie huishoudings en besighede wat deesdae sonkrag installeer, bloot om die ligte aan te hou en te kan voortgaan met besigheid.
Siende dat Suid-Afrika een van die top vyf mees geskikte lande ter wêreld is om sonkrag op te wek, bied sonkrag ‘n baie aantreklike oplossing om beurtkrag minstens gedeeltelik te help verlig. Trouens , daar is al klaar inwoners en groot kommersiële industrieë wat addisionele krag opwek wat hulle nie self kan gebruik nie. Maar die regering se regulasies verbied hulle om dit aan die kragnetwerk beskikbaar te stel.
Plaaslike regering in Suid-Afrika sal ‘n groter rol moet speel om druk uit te oefen op die regering sodat die addisionele krag wat inwoners opwek teruggevoer kan word na die kragnetwerk – hetsy gratis of teen ‘n vooraf vasgestelde, billike prys. Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing moet munisipaliteite elektrisiteit aan inwoners verskaf.
Dus, indien die regering sekere maatreëls toepas en dit meer toeganklik maak vir gewone mense soos huis- en besigheid eienaars om aan hierdie skema deel te neem, kan daar in die afsienbare toekoms ‘n aansienlike hoeveelheid ekstra krag beskikbaar wees wat die kragkrisis kan help verlig en beurtkrag beperk.
Surplus elektrisiteit wat deur inwoners en besighede opgewek word, kan ook by wyse van “wheeling” by inwoners uitkom wat nie toegang het tot sonkrag (of munisipale krag) nie. Sodoende kan plaaslike regering ook die kwessie van die sogenoemde “haves” en “have nots” help oorbrug, meer en beter dienste lewer en in die proses gemeenskappe bemagtig. Dink ook aan die onverwagte bonusse van beter dienslewering: nie net gaan die ekonomie daarby baat nie, maar ons politieke klimaat kan stabiliseer namate meer mense toegang kry tot beter dienste.
As huiseienaars ‘n belastingvoordeel kan kry deur hul eie sonkrag-infrastruktuur te installeer, sal meer mense dit doen. Tans geniet net besighede hierdie voordeel, en dis ook nie eers welbekend nie.
Geen van hierdie maatreëls hoef gekompliseerd te wees nie. Munisipaliteite en die reguleerder kan besluit op ‘n basiese tarief vir aankope vanaf inwoners. Nog ‘n praktiese oplossing is om ‘n kortingstelsel of “rebate” te implementeer. Inwoners wat hul surplus sonkrag-elektrisiteit aan die munisipale kragnetwerk lewer, hoef nie in kontant vergoed te word nie, maar kry bloot ‘n korting op hul munisipale rekening.
Nog ‘n besliste voordeel is dat die implementering van die proses berus by die huiseienaar of kommersiële entiteit en nie by die staat nie. Ons sal dus nie – soos nou – afhanklik wees van die regering se (gebrekkige) vermoë om sonkrag op te wek en aan ons te verkoop nie.
Die grootste uitdagings sal natuurlik die goedkeurings prosesse wees.
Dis noodsaaklik dat almal wat krag terugstoot in die netwerk, aan hierdie regulasies voldoen. Huiseienaars sal ‘n “Certificate of Compliance” (CoC) benodig, en daar sal ook ‘n ooreenkoms tussen die munisipaliteit en die inwoner moet wees rondom die vergoedingstarief asook die krag meter wat gebruik word. Die proses vereis ook goeie administrasie van die kant van die munisipaliteit, en soos ons uit ondervinding weet, kan dit ‘n struikelblok wees. Dit is dus baie belangrik om van tegnologie gebruik te maak.
Kritici van hierdie stelsel kan dalk aanvoer dat ons elektrisiteit mark vinnig versadigingspunt sal bereik. As dit wel gebeur, kan elektrisiteit vir almal goedkoper wees, wat ‘n wen-wen situasie vir die land en sy mense sal wees. Goedkoop, volhoubare en altyd-beskikbare energie skep tog die fondasie vir ‘n land se ekonomie om te seëvier.