Nuuskommentaar: 23 Oktober 2023
Deur: Johnell van Vollenhoven
Dit is weer daardie tyd van die jaar. Amper ’n miljoen kandidate het ingeskryf om die sertifikaat te verwerf wat nie net die einde van ’n lewensfase inlui nie, maar ook die sleutel tot die toekoms moet wees.
Vir baie is die sertifikaat wat met die aflê van die finale matriekeksamen behaal word, met reg die sleutel tot ’n blink, nuwe fase. Voorbereiding, harde werk en kwaliteitonderrig lei na prestasie, vrystelling en die pad van verdere opleiding – hetsy dit by ’n tersiêre instelling of in diens van ’n werkgewer is. Die pad van voorspoed begin opnuut en ’n blink toekoms lê dikwels voor vir dié wat hierdie pad reeds op skool met erns begin stap het.
Ongelukkig vertel die jeugwerkloosheidsyfer ʼn veel hartseerder verhaal. Tot 45,3% van jeugdiges het tans nie ’n werk nie. Dit is baie naby aan die helfte van ons land se jongmense. Hulle verdien nie ’n inkomste nie en hulle is nie besig om vaardighede aan te leer of kennis op te doen wat hulle in staat sou stel om voorspoed vir hulself te kan skep of te kan bydra tot die voorspoed van ‘n entiteit of mikro- en makro-ekonomie waarbinne hulle hulself bevind nie.
Die regering en partye wat dieselfde ideologiese oortuigings het, se optrede is dikwels eerder reaktief van aard en daarop gefokus om die simptome van die probleem met staatshulp aan te pak in plaas daarvan dat hulle die oorsaak takel. In hierdie geval veral, beskou die regering dit as sy plig om werk te skep en toelaes uit te deel, eerder as wat hy sy eie narratief gestand doen en die mense wat vir hom stem, bemagtig om voorspoed en vryheid te kan geniet.
Deur sy beskouing van homself as die voorsiener te verander na die bemagtiger, sou vooruitgang eerder as verval en ekonomiese inkrimping dalk eerder die resultate wees.
Om dit wat fout is in Suid-Afrika te takel, is ’n groot uitdaging. Misdaad, indiensneming, gesondheid, infrastruktuur, onderwys … daar is nie ’n departement sonder wesenlike probleme nie, en hierdie olifant mag dalk net te groot lyk om hom happie vir happie te eet … tog is daar een antwoord wat bo alle ander hoop bring, en wat ver bo moedeloosheid en verval, selfs in die moeilikste omstandighede van die verlede, kon uitkoms bied vir verskeie nasies: opvoeding.
Die skep van ’n stelsel waar kinders optimaal kan leer en die nodige kennis en vaardighede kan opdoen wat hulle in staat sal stel om te floreer, is werklik, volgens my, die kerngereedskap om al die ander gebreke te kan oplos; hoe meer kennis en hoe meer vaardighede, hoe meer bekwame persone om posisies te vul en leiding te neem en op te bou en te herstel wat gebreek en vervalle is.
Wanneer kinders toegelaat word om werklik te leer en te presteer, word selfvertroue en waardigheid gekweek. Dit raak persone wat hul passie ontdek en wat met wil en oortuiging die roete na ’n roeping begin stap. Hulle word jongmense wat hulself ywerig bekwaam sodat hulle hul plek in die samelewing kan vol staan en hul take met verantwoordelikheid kan aanpak.
Met een skakel wat vervang word, word die ketting jaarliks sterker, word uitdagings met innovasie aangepak en raak dié negatiewe syfers minder en minder.
Wanneer die staat ophou om die hoofvoorsiener te wees en die hoofondersteuner raak, en die dienste begin lewer waarvoor sy burgers betaal, insluitende ’n onderwysstelsel in die beste belang van elke kind eerder as in belang van die regering se ideologie, sal die matriekeksamen vir meer leerders die pad na sukses oopmaak en sal baie meer leerders met vertroue weet dat die toekoms werklik blink.