Deur: Willie Spies
Die afdanking van die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield, deur president Cyril Ramaphosa, het weer vrae laat ontstaan oor die president se grondwetlike prerogatief om kabinetslede en adjunkministers aan te stel of te ontslaan.
In 2017 het die destydse president, Jacob Zuma, die minister van Finansies, Pravin Gordhan, en sy adjunk, Mcebisi Jonas, uit hul poste verwyder.
Die DA het die saak na die Hooggeregshof geneem vir geregtelike hersiening. Reël 53 van die hofreëls maak daarvoor voorsiening dat ’n party wat om geregtelike hersiening aansoek doen, toegang mag kry tot die rekord van besluitneming sodat die besluit getoets kan word. Zuma se regspan het uiteraard geweier om die rekord beskikbaar te stel. Hulle het ook geweier om ’n beweerde intelligensieverslag wat destyds Zuma se besluit onderlê het, beskikbaar te stel.
Die DA het ’n interlokutêre aansoek geloods om die staat te verplig om die rekord van besluitneming beskikbaar te stel.
Regter Vally, in die Hooggeregshof van Gauteng, Pretoria, het in die DA se guns beslis en bepaal dat Reël 53 ook op uitvoerende besluite soos kabinetskommelings van toepassing kan wees.
Hy het die argument aanvaar dat openbaarmaking van die besluitnemingsrekord nodig is om deursigtigheid en aanspreeklikheid in uitvoerende optrede te verseker. Zuma is gelas om die rekord te verskaf, waarop hy na die Hoogste Hof van Appèl geappelleer het.
Die appèluitspraak was destyds ’n oorwinning vir die DA, maar ongelukkig het die appèlhof nie ingegaan op die meriete van regter Vally se beslissing nie en die appèl slegs van die hand gewys op grond van die feit dat die saak bloot van akademiese belang geraak het. Die redes hiervoor was drievoudig: Eerstens, Zuma het uit die presidentskap bedank; tweedens, president Ramaphosa het ’n nuwe kabinetskommeling uitgevoer; en derdens, die DA het die oorspronklike hersieningsaansoek teruggetrek.
Nogtans is dit belangrik dat die appèluitspraak nie regter Vally se bevinding omvergewerp het dat Reël 53 op uitvoerende besluite van toepassing kan wees nie.
Aangesien die appèluitspraak nie die meriete van Vally se beslissing gedek het nie, bly sy uitspraak tegnies onuitgedaag en dus geldende reg.
Daar is geen latere uitspraak wat Vally se bevinding uitdruklik bevestig of uitbrei nie, wat ’n mate van regsonsekerheid skep. Die appèluitspraak verwys na ander sake waar Reël 53 in soortgelyke kontekste toegepas is, wat aandui dat Vally se benadering nie heeltemal sonder presedent was nie.
Tog het die hof beklemtoon dat die Reëlsraad van die Hooggeregshowe die gepaste liggaam is om die omvang van Reël 53 uit te omskryf, wat impliseer dat toekomstige wysigings aan die reël nodig mag wees om hierdie kwessie te vereenvoudig.
In die konteks van Andrew Whitfield se afdanking, is dit moontlik dat Vally se uitspraak van toepassing kan wees, veral as die DA of ’n ander party ’n hersieningsaansoek loods en die openbaarmaking van die president se besluitnemingsrekord vereis.
Die afdankings van Whitfield deur Ramaphosa in 2025 en van Gordhan en Jonas in 2017 toon sekere ooreenkomste.
Al die betrokke figure was prominente lede van hul onderskeie portefeuljes, en hul verwydering het politieke kontroversie ontlok.
In beide gevalle was die DA ’n sleutelspeler, wat die president se optrede gekritiseer en moontlike regstappe oorweeg het.
Die grondwetlike bevoegdheid of prerogatief van die president om kabinetslede te ontslaan, staan sentraal in beide sake, maar die politieke kontekste verskil.
Die 2017-gebeure was deel van ’n breër politieke stryd binne die ANC, terwyl Whitfield se afdanking eerder verband hou met spanning in die RNE. ’n Belangrike verskil is die openbare persepsie en die aard van die bewerings.
In 2017 was daar wye kommer oor die beweerde “intelligensieverslag” en moontlike onbehoorlike motiewe vir Zuma se besluit.
In Whitfield se geval is die redes minder duidelik. Die president beweer dat Whitfield hom aan insubordinasie skuldig gemaak het deurdat hy nie die president se goedkeuring gevra het vir ’n oorsese reis nie. Whitfield beweer dat hy toestemming gevra het, maar geen antwoord gekry het nie.
Verder het die DA in 2017 vinnig gereageer met ’n hersieningsaansoek, terwyl dit in 2025 nog nie formele stappe gedoen het nie.
Die DA is in ’n netelige posisie: President Ramaphosa en die ANC is duidelik geïrriteerd met die teenwoordigheid van die DA in die regering. Hulle sal wat wou gee om sonder die DA se steun te regeer.
Op die oomblik is die optrede van die twee grootste partye in die RNE soos die van ’n egpaar wat weet dat hul huwelik op die rotse is, maar die een wag vir die ander om die egskeiding aan die gang te sit.
Die onlangse viering van die RNE se eerste verjaarsdag was ’n flouerige gebeurtenis. Beleidsgewys het Suid-Afrika voortgestoom op die beleidspad wat die ANC die afgelope 31 jaar uitgebeitel het en verskans het deur middel van drakoniese wetgewing en regulasies en verbete kaderontplooiing.
Dis onwaarskynlik dat die DA nou die risiko sal loop van ’n hersieningsaansoek, maar in die komende weke, wanneer die parlement individuele begrotingsposte van ministers tot stemming bring, kan daar waarskynlik in ’n paar portefeuljes se begrotings in die slag bly.
Veral ministers wat van korrupsie verdink word, maar deur Ramaphosa geduld en beskerm word, se begrotings kan in die slag bly. Ons kan dus die springmielies gereed hou vir interessante gebeure in die nuwe, opwindende politieke era van koalisies.
Willie Spies is ’n prokureur en uitvoerende voorsitter van Pretoria FM.